Local sportSport

Matfield steek sy hand hoog op vir Bulls afrigters pos

Die Bulls legende, Victor Matfield, het gaste by verlede week se jaarlikse Tuks Rugby Ondersteuners Klub (Trok) dinee verras deur sy reddingsplan vir die Blou Bulle met hulle te deel.

Die gewese Bulls en Springbok slot en kaptein, Victor Matfield, het as gasspreker by verlede week se Tuks Rugby Ondersteuners Klub (TROK) se jaareind-dinee geen geheim gemaak van sy aspirasies om die nuwe afrigter van die Bulls te word nie.

Matfield was die gasspreker by dié dinee, wat voorafgegaan is deur die Tuks Rugbyklub se jaarvergadering, waar dié klub nog ‘n jaar van groot sukses kon vier.

Te midde van ‘n uitgelese groep gaste, waaronder verskeie Springbok- en Bloubul legendes getel het, het Matfield sy gehoor verras deur nie ‘n konvensionele toespraak te maak, soos normaalweg by hierdie soort funksies verwag word nie.

Ten minste twee lede van die paneel wat betrokke gaan wees by die keuringsproses om ’n nuwe afrigter in die plek van John Mitchell aan te stel, was onder die gaste by die dinee. Met die tyd wat besig is om uit te loop voor die Bulls se voorseisoen oefenprogram teen middel November moet begin, word Matfield se naam al hoe meer genoem as ‘n moontlike Bulls afrigter, wat waarskynlik gevra sal word om in samewerking met die Springbok afrigter, Rassie Erasmus, dié span vir die 2019 Superrugby seisoen te brei.

Matfield het met die hulp van ‘n rekenaar-projektor op ‘n groot skerm in die saal by Union Caterers in die ooste van Pretoria ‘n baie indrukwekkende aanbieding gelewer van sy toekomsvisie oor die strategie wat gevolg moet word om die Blou Bulle en die Bulls weer op die pad na sukses te kry.

Hy het begin om die einddoel van sy visie te identifiseer as ‘n strategie om van die Bulls weer die beste rugby-franchise in die wêreld te maak. Hierdie visie stem sterk ooreen met die nou reeds bekende “droom” waarmee Heyneke Meyer sedert 2000 sy kampioenspan begin bou het om later meermalige Curriebeker- en SuperRugby kampioene te word.

Volgens Matfield sal hierdie droom herbou moet word met beginsels soos dissipline, eerlikheid, werksetiek, uitnemendheid op alle vlakke, ‘n familie-kultuur op Loftus Versfeld en ‘n omgewing waarin spelers, bestuurslede en ondersteuners hulself kan geniet.

Dié suksesvolle gewese Bulls kaptein het ‘n paar swakplekke en ‘n paar sterkpunte geïdentifiseer wat aangespreek of uitgebou moet word.

Onder die swakplekke het Matfield aspekte geïdentifiseer soos die afrigtingstruktuur, onvoldende kondisionering van spelers en ‘n negatiewe kultuur wat spelers makliker laat besluit om oorsee te gaan speel.

Hy het egter aspekte soos die Blou Bulle se geskiedenis van sukses, ‘n reuse ondersteunersbasis, die potensiaal om ‘n aangename rugbykultuur in ‘n rugbyvriendelike stad soos Pretoria te vestig én die potensiaal van ‘n reuse voedingsarea met Pretoria as basis genoem as sterkpunte wat gebruik kan word om die heropbou plan te laat slaag.

Dit was ook duidelik uit Matfield se aanbieding dat hy glo spelers en afrigters moet noukeurig gekies word om by die unieke rugbykultuur van Pretoria in te pas.

Hy glo ook dat senior spelers by die Bulls bemagtig moet word om die kommunikasie struktuur by Bulls- en Bloubul spanne te verbeter. Hierdie spelers moet volgens hom vrylik met die afrigters kan kommunikeer om die spanharmonie te verseker.

Volgens Matfield moet daar ‘n omgewing vir beter interaksie tussen alle afrigters by die Blou Bulle geskep word en die bestuur moet ook nie skroom om van die beste konsultante gebruik te maak om probleemareas aan te spreek nie.  Hoewel hy dit nie uitgespel het nie, was dit uit sy voorlegging – wat videomateriaal ingesluit het – duidelik dat hy reeds skrumwerk by die unie in hierdie opsig as ‘n probleem geïdentifiseer het.

‘n Interessante aspek van Matfield se voorlegging was sy pleidooi dat ‘n Direkteur van Rugby aangestel moet word wat met die Hoof Uitvoerende Beampte moet saamwerk, maar dat die twee persone ook op verskillende aspekte van die organisasie sal konsentreer –  die een op die suksesvolle bedryf van die kommersiële aspekte en die ander op rugby aspekte en speler-aangeleenthede.

Volgens Matfield moet daar in die heropbou proses gekonsentreer word om spelers vir langer termyne by die Bulle te kontrakteer. Hiervoor moet veral die komende toer van die Britse en Ierse Leeus in 2021, asook die Wêreldbeker toernooi van 2023 as bakens gebruik word.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button