Local sportSport

Swys de Bruin en Willem Strauss deel rugby-toekomsvisie op Garsies-ontbyt

Gaste by Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Besigheidsontbyt het verlede week behoorlik aan die lippe van twee kenners gehang tydens hul gesprek oor die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby op en van die veld af.

Gaste by die Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Besigheidsontbyt, wat verlede week aangebied is, het vanjaar die voorreg gehad om na ’n baie spesiale gesprek te luister.

Vir enige deurwinterde rugby-ondersteuner was dié gesprek inderdaad ’n geleentheid om eerstehande insae te kry oor die koers waarheen rugby in Suid-Afrika op pad is – op die veld én in die raadsale.

Die organiseerders van dié jaarlikse ontbyt het oudergewoonte raakgevat met sprekers wat aan gaste waarde vir hul geld kon gee met relevante en aktuele inligting waarvan hulle eerstehands kon kennis neem.

In kontras met die tradisie van ’n spreker wat die gaste toespreek by die ontbyt, is die formaat vanjaar effens verander deurdat twee eregaste aan ’n paneelbespreking deelgeneem het. Die hoofafrigter van die Lions en hulpafrigter van die Springbokke, Swys de Bruin, asook die president van die Blou Bulle Rugby-Unie, Willem Strauss was die kenners en die gespreksleier was die bekende TV-persoonlikheid, Hamilton Wessels.

De Bruin en Strauss is inderdaad albei baanbrekers in die moderne rugby-omgewing en hulle kon dus in die paneelgesprek gaste se perspektief oor huidige tendense in Suid-Afrikaanse rugby ophelder. Daarby het nie een van dié twee manne – wat waarskynlik albei belangrike rolspelers gaan wees in die nuwe era waarheen Suid-Afrikaanse rugby tans beweeg – geskroom om hul visie vir die spel op en van die veld af duidelik te maak nie.

Sommer vroeg in die gesprek was dit reeds duidelik waarom die Leeus en die Springbokke met De Bruin as aanvalsafrigter soveel sukses behaal. Sy filosofie is egter verbasend eenvoudig en hy het dit duidelik gemaak dat hy nie ’n aanhanger van té veel gekompliseerde en rigiede strukturele wedstrydplanne is nie.

“Spelers moet die kans gegun word om hul natuurlike talent en sterkpunte te ontwikkel. Ek glo elkeen het ’n sterkpunt wat hy in belang van die span kan gebruik. Dan leer ons hulle om te kommunikeer en om spasie op die rugbyveld raak te sien en aan te val. Spelers moet leer om volgens die situasie op die veld te reageer. Hulle moet boonop speel om die spel te geniet,” het De Bruin sy filosofie verduidelik.

De Bruin het gesê jong seuns wat in ‘n park of agterplaas vir die pret rugby speel raak verlief op die spel juis omdat hulle dit geniet. Dié aspek mag volgens hom nooit uit die spel gedwing word deur ingewikkelde strukture en wedstrydplanne wat spelers òf verwar òf verveel nie.

“Hou dit prakties en eenvoudig. Spelers word te voorspelbaar as jy te veel staatmaak op handboek- metodes. Weens hedendaagse tegnologie weet almal in elk geval alles van mekaar. Daarom glo ek eerder dat elke individu se sterkpunte en vaardighede versterk moet word, sodat hy dit op die veld in ‘n wedstrydsituasie te bate van die span kan uitleef,” was sy raad aan skole-afrigters.

De Bruin het ook ‘n pleidooi gelewer vir meer praktiese ondervinding binne wedstrydsituasies vir afrigters. Hy het die voorbeeld genoem van die Crusaders, wat in tuiswedstryde weekliks verskillende klub- en skoleafrigters toelaat om die afrigtershokkie in die paviljoen met dié SuperRugby-kampioen se afrigters te deel.

“Só leer die jong manne hoe ervare afrigters dink en doen in verskillende situasies,” het De Bruin verduidelik.’

Strauss het beaam dat daar tans ‘n groot leemte is om afrigters in Suid-Afrika te ontwikkel. Hy het ook ‘n situasie bepleit waar meer interaksie tussen afrigters uit verskillende vlakke plaasvind.

Die gebrek aan kwaliteit afrigters wurg rugby volgens Strauss op alle vlakke, maar veral op skolevlak. Hy het kommerwekkende statistiek genoem van die reuse afname in laerskole wat aan amptelike ligas deelneem.

Volgens Strauss is die herstrukturering van die Blou Bulle se klubligas ook daarop gemik om die kommerwekkende aantal skoolverlaters wat ophou rugby speel weer by die spel betrokke te kry.

Strauss het verduidelik dat klubrugby in die toekoms weer baie meer relevant gaan word in die hele struktuur van Suid-Afrikaanse rugby. Hy het beklemtoon dat nuwe kontrakteringsmodelle ondersoek word wat waarskynlik deur alle unies aangeneem sal word. Daarvolgens sal ‘n kleiner kerngroep spelers professionele kontrakte kry, terwyl klubrugby ‘n voedingsbron vir professionele spanne sal word.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button