Adelaars krieketklub herrys
Die Adelaars Kriekeklub is besig om hul ou glorie te herstel onder ‘n nuwe bestuur en dié klub presteer tans baie goed in die ligas van Northerns Cricket.

Aan die begin van 2018 wou dit lyk of een van Pretoria se oudste krieketklubs, Adelaars, se dae getel is.
Die klub het verskeie probleme ondervind. ‘n Paar deurwinterde krieket administrateurs het egter vasgebyt en begin om die klub weer op te bou. ‘n Nuwe bestuur is verkies en met die hulp van die Northerns Cricket Union is twee nuwe oefen-nette vir die klub opgerig.
Die voormalige provinsiale krieketspeler, Garnet Stevens, het die leisels in die bestuur van die klub oorgeneem en kort daarna is begin om spelers te werf.
Die AXCON sekuriteitsmaatskappy het ook aan boord gekom as hoofborg van die klub, wat Adelaars in staat gestel het om selfs belowende spelers te akkommodeer wat nie self hul uitrusting sou kon bekostig nie.
Kleiner borge soos Just Water het ook hul gewig by Adelaars krieket begin ingooi, wat die bestuur in staat gestel het om selfs ná wedstryde belonings aan te bied vir spelers wat as ‘Man-van-die-wedstryd’ aangewys word.
Teen die begin van die nuwe seisoen het Adelaars reeds 70 geregistreerde spelers gehad. Dié spelers het van oral oor Pretoria by Adelaars aangesluit.
Intussen het Adelaars vyf spanne vir verskillende ligas van Northerns Cricket ingeskryf. Die klub se tuisveld is by die Adelaars Sportunie op die hoek van Meyerstraat en 16e Laan in Wonderboom-Suid.
Die klub probeer veral om tuiswedstryde te omskep in ‘n aangename en familievriendelike ervaring vir spelers en toeskouers. Volgens ‘n woordvoerder van die klub streef hulle daarna om op wedstryddae weer iets vir almal aan te bied, sodat Adelaars krieket se wedstryde ‘n trekpleister vir kriekeliefhebbers van die Moot kan wees.
Vir meer besonderhede oor ligas en oefentye, kontak Justin Wilson by 081-869-5204 of per epos by adelaarcc@gmail.com .
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


