Noord-Gauteng Stoei ry steeds die golf van sukses
Die jaarlikse meriete toekenningsgeleentheid van die Noord-Gauteng Stoeivereniging was weer ‘n getuigskrif van dié organisasie se sukses.
Daar is steeds geen keer aan die prestasies van plaaslike stoeiers van die Noord-Gauteng Stoeivereniging (NGSV) nie.
Dít was duidelik toe die uitblinkers onder plaaslike stoeiers en stoeiklubs die afgelope naweek met toekennings beloon is by die vereniging se jaarlikse meriete-aand.
Een van Noord-Gauteng Stoei se merkwaardigste prestasies is juis die feit dat dié vereniging tans die grootste van sy soort in Suid-Afrika is. Hierdie feit getuig van die sukses wat die vereniging se bestuur die afgelope drie jaar onder leiding van die uittredende president, Jurie Human, behaal het.
Human se driejaar plan is opgesom met die sogemaande “drie k’s”, naamlik kultuur, kwaliteit en kwantiteit. Die strawwe, maar gesonde wedywering tussen klubs van Noord-Gauteng Stoei, getuig van die uitbouing van die kultuur en kwantiteit in dié sport onder die vereniging se vaandel, terwyl die individuele prestasies van die vereniging se stoeiers ook deeglik getuig van die kwaliteit wat gehandhaaf word.
Die nuutverkose president van die NGSV, Gerhard Coetzer, het aan Rekord gesê dat hy glo die sport het baie potensiaal om steeds groter te groei. Volgens hom wil hulle die sport uitbrei na alle uithoeke van die Tshwane metropool en ook in skoolverband.
Coetzer streef verder daarna om stoei te bevorder as deel van mense se leefstyl. Hy het gesê stoei en die fisieke oefening rondom die sport kan onder alle ouderdomme ontwikkel word as ‘n alternatief vir ander metodes om fiks en gesond te bly en as stresontlading.
Die vereniging se meesters het vanjaar weer uitgestaan as top presteerders op internasionale vlak en vir die eerste keer het Noord-Gauteng drie wêreldkampioene opgelewer tydens die meesters wêreldkampioenskap in Masedonië.
Noord-Gauteng het die Suid-Afrikaanse meesters se span oorheers met 12 uit die 14 stoeiers. Willem Putter (88kg), Monty de Beer (100kg) en Duane van Staden (130kg) het almal goue medaljes in Masedonië verower.
Hoewel heelwat van die 14 geaffilieerde klubs van die NGSV tydens die oorhandiging van trofees vir klub- en individuele prestasies gedeel het in die pryse, het die Centurion Stoei Gimnasium en die Tuks Stoeiklub oudergewoonte weer dié toekennings oorheers.
Tuks het eerste geëindig in die liga-afdeling, terwyl Centurion weer tydens die uitdeel van die ouderdom- en styltrofees koning gekraai het. Dít het ook beteken dat Centurion as top klub van die jaar aangewys is en hulle kon wegstap met die kampioen-van-kampioene trofee.
Die Zenzele klub van Soshanguve het ná Centurion en Tuks in die derde plek geëindig.
Noord-Gauteng is ook baanbrekers met hul Bulletjie toernooie, waar veral geleenthede geskep word vir jong onervare stoeiers om teen mekaar deel te neem om ervaring en selfvertroue op te bou. Hierdie toernooie is ‘n uitstekende wyse om die sport te ontwikkel en uit te bou. Die Reitz Stoeiklub is aangewys as die klub wat vanjaar die beste gevaar het in dié formaat.
Vir meer inligting oor stoeiklubs in die Tshwane omgewing, besoek gerus die Noord-Gauteng Stoeivereniging se webwerf by https://ngstoei.co.za/
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.































