Naka Bulle vereer presteerders ná nog ‘n suksesvolle jaar
Ná nog ‘n jaar van hoogtepunte kon die ABE Midas Naka Bulle Rugbyklub die afgelope naweek hul presteerders van die 2018 seisoen met verskeie toekennings beloon.

Ten spyte van die feit dat die ABE Midas Naka Bulle rugbyklub se eerstespan nie vanjaar daarin kon slaag om enige bekers te wen nie, het dié klub steeds genoeg rede gehad om met trots fees te vier by hul jaarlikse prysuitdelingsfunksie, wat verlede week by die TradeMarx restaurant langs Loftus Versfeld aangebied is.
Vyf spanne van dié klub het vanjaar vir halfeindstryde in hul verskillende ligas gekwalifiseer. Vier van hierdie vyf spanne het in eindstryde gespeel en twee daarvan – die o.20’s en die derdespan – het uiteindelik as kampioene in hul ligas uit die stryd getree.
Hoewel ABE Midas Naka Bulle se eerstes nie vanjaar enige trofee kon wen nie, was hulle in twee taai eindstryde betrokke, waarin hulle telkens die knie teen Tukkies moes buig.
Die seisoen het egter een groot hoogtepunt vir ABE Midas Naka Bulle se eerstes opgelewer toe hulle gekwalifiseer het om die Blou Bulle in volgende jaar se Gouebeker nasionale klubkampioenskap te verteenwoordig. Hiervoor het die voorbereiding reeds in alle erns begin en daar is tydens die naweek se prysuitdelingsfunksie bevestig dat die klub se toer na Zimbabwe nou in Januarie 2019 sal plaasvind. Dít sal beter inpas by die tydskedule ter voorbereiding van die Gouebeker toernooi.
Tydens die funksie is studente van die Internasionale Rugby-Instituut, wat by die ABE Midas Naka Bulle Rugbyklub gesetel is, ook vir hul prestasies van die afgelope jaar beloon. Baie van dié instituut se spelers, asook ander juniors van ABE Midas Naka Bulle se o.20 en o.21 spanne, het vanjaar ná die klubrugby seisoen met sukses vir junior spanne van die Limpopo Blou Bulle, die Pumas, die Luiperds en selfs die Goue Leeus uitgedraf.
Saam met dié jong manne het die klub ook verskeie spelers vir die Blou Bulle se Loftus 200 amateurspan opgelewer. Altesaam 32 spelers van ABE Midas Naka Bulle het vanjaar op junior én senior vlak verteenwoordigende rugby gespeel.
Verskeie toekennings is by die prysuitdelingsfunksie gemaak. Gustav de Jager, wat ook vanjaar vir die Goue Leeus se o.19 span uitegdraf het, is aangewys as die klub se o.20 speler van die jaar.
Die talentvolle jong voorryman, Ruan (Bielie) Grundeling, wat vanjaar ook vir die Luiiperds se senior span gespeel het, is aangewys as die o.21 speler van die jaar.
Louis Ackerman, afrigter van die klub se suksesvolle derdespan, is as afrigter van die jaar aangewys.
‘n Gewese Bulls vleuel, Kefentse Mahlo, wat hoofsaaklik as senter vir ABE Midas Naka Bulle uitgedraf het, is as die klub se agterspeler van die jaar aangewys, terwyl die talentvolle groot slot, Adriaan Brits, as die beste voorspeler van 2018 gekies is.
Die groot prys van die jaar, ABE Midas Naka Bulle se Speler van die Jaar, is toegeken aan die klipharde en woelige baljagter-flank, Ian van Deventer. Hy is een van verskeie uitblinkers in plaaslike klubrugby wat deur kenners as goed genoeg beskou word om Curriebeker rugby te kan speel.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie












