Local sportSport

Jong Pretorianer maak sy stem dik op bergfiets roetes

Hoewel die jong Wessel Botha eers later vandeesmaand 20 jaar oud word, het hy met sy prestasies oor die afgelope paar weke gewys dat hy waarskynlik Suid-Afrika se mees belowende bergfietsryer is.

Die jong Wessel Botha van Pretoria se fietsry loopbaan het die afgelope twee weke ‘n reuse hupstoot gekry met twee baie belangrike oorwinnings.

Botha en sy spanmaat, Matt Beers, het vroeg in November die gesogte Wines2Whales bergfiets marathon in die Wes-Kaap gewen.

Tydens dié wedren, wat in drie skofte oor drie dae beslis word, ry jaers met hul bergfietse oor ‘n totale afstand van sowat 210 km vanaf ‘n wynlandgoed in Somerset-Wes tot by Hermanus.

‘n Week later het dié jong Pretorianer die 947 bergfiets wedren in Johannesburg vir die tweede jaar agtereenvolgens gewen.

Die bekende 947 bergfiets wedren is verwant aan die padwedren met dieselfde naam, wat ‘n week later in die strate van Johannesburg plaasvind.

Hierdie prestasies van die 19-jarige Botha volg op sy oorwinnings vroeër vanjaar in die Magalies Monster wedren naby Buffelspoort in Noordwes en die Nissan Trailseeker wedren by Mabalingwe in Limpopo.

Al hierdie prestasies het Botha behaal in sy eerste seisoen as professionele ryer in die New Africa Developments (NAD) span.

Dié oud leerling van Hoërskool Menlopark se fietsry droom het reeds op laerskool begin. Sy pa, Dana, is ook ‘n ywerige fietsryer en Wessel se belangstelling is geprikkel toe hy destyds saam met sy pa begin ry het.

Daarna het die skole-bergfietsligas gevolg en in 2016 is hy in sy matriekjaar as nasionale kampioen in die Spur-skoleliga gekroon. In dieselfde jaar het hy ook die Suid-Afrikaanse halfmarathon kampioenskap gewen én ‘n paar ander titels ingepalm.

Verlede jaar het Botha besluit om vir ‘n jaar lank voltyds op fietsry te konsentreer met die oog daarop om ‘n deurbraak te maak en dalk ‘n kans by een van die professionele spanne te kry.

Hy het dadelik tuis gelyk tussen ervare jaers en ná ‘n paar onder-23 titels het Botha ook tussen die hardebaarde begin presteer. Hy het gereeld onder die top vyf in wedrenne begin eindig, waarna  oorwinnings gevolg het in wedrenne soos die Emperors Palace uitdaging, die XCO wedren in Windhoek, die Gauteng XCO kampioenskap, die Hollard JUMBA wedren en die vierde wedren van die USN Beker.

Botha het 2017 afgesluit met sy oorwinning in verlede jaar se 947 bergfietswedren. Daarna het die deurbraak gekom waarvoor hy gewerk het, toe hy ‘n aanbod van die NAD span gekry het om by hulle aan te sluit as professionele ryer.

Dié belowende jong fietsryer droom intussen reeds oor moontlike deelname aan die Olimpiese Spele in 2020 in Japan. Bergfiets wedrenne in die sogenaamde “cross country” afdeling is reeds sedert 1996 deel van die Olimpiese Spele.

Botha en sy spanmaats neem tans ‘n ruskans ná die 947 wedren, waarna hulle in Desember weer ernstig sal begin voorberei vir 2019.

Dié komende seisoen sal nie net vir die jong Wessel Botha belangrik wees om homself te vestig as een van Suid-Afrika se top bergfietsryers nie, maar sy vertonings in 2019 kan ook ‘n invloed hê op die realisering van sy droom om sy land by die Olimpiese Spele te kan verteenwoordig.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button