Bekende halfmarathon herdenk Voortrekkermonument se 80ste bestaansjaar
Vanjaar se Voortrekkermonument halfmarathon sal deel vorm van die 80ste herdenking van dié bekende baken in Pretoria.
Die bekende en gewilde Voortrekkermonument halfmarathon, wat eerskomende Saterdag (24 November) plaasvind, sal vanjaar deel uitmaak van dié monument se 80 jarige feesvieringe.
Die wedloop begin om 06:00 en sal in geheel binne die terrein van die Voortrekkermonument en omliggende natuurreservaat plaasvind.
Daar word ook ‘n 10km wedloop aangebied wat saam met die halfmarathon voor die trappe van die Voortrekkermonument wegspring. ‘n Pretdraf van 5km, wat om 06:15 sal begin, bied die geleentheid vir minder fikse deelnemers om ook die natuurskoon rondom die monument te geniet én ‘n medalje daarvoor te ontvang.
Vanjaar se medaljes, wat alle atlete sal ontvang, is ‘n versamelaarsitem en sal deel wees van die herdenking van die monument se 80ste bestaansjaar.
Sommige van Pretoria se bekendste landmerke is ingesluit by die roete. Buiten die Voortrekkermonument, neem die roete atlete verby die Muur van Herinnering, die Erfenissentrum, Fort Schanskop, die Danie Theron standbeeld en die Amfiteater.
Die wedloop word georganiseer deur die Voortrekkermonument Draf-en Stapklub wat in die verlede reeds wedlope soos die Springbok Vasbyt, Ou Voetpad en die Muller Potgietergedenkwedloop met groot sukses aangebied het.
Aanlyninskrywings, wat op Woendsag 21 November sluit, kan gedoen word by www.entrytime.co.za . ‘n Inskrywingstafel sal ook op Vrydag 23 November vanaf 14:00 tot 18:00 by die monument beman word, terwyl atlete ook die oggend van die wedloop vanaf 04:30 tot 06:00 kan inskryf.
Meer inligting oor die wedloop is beskikbaar by www.vtmklub.co.za terwyl navrae ook gerig kan word aan connie@mboneni.co.za of 071-405-5588.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

