Plaaslike stoeiers op ontwikkelingstoer na Duitsland
‘n Groep jong stoeiers van Pretoria toer tans in Duitsland om ondervinding en ervaring op te doen met die oog op moontlike internasionale deelname in die toekoms.

Elf van Pretoria se beste jong stoeiers is hierdie week op ‘n toer in Duitsland, waar hulle baie waardevolle internasionale blootstelling sal kry en ondervinding sal opdoen.
Al dié jong stoeiers is tussen die ouderdomme van 11 en 15 jaar en almal is òf nasionale stoeikampioene òf medaljewenners by die nasionale kampioenskap van 2018.
Hoewel die jong stoeiers reeds gewys het dat hulle tel onder die beste talent wat in Suid-Afrika beskikbaar is, is een van die hoof doelwitte van die toer om hulle aan toestande en teenstand op internasionale vlak bloot te stel.
Om op internasionale vlak en in vreemde omstandigehde deel te neem kan soms intimiderend wees vir onervare jong stoeiers. Hierdie toer word dus beskou as ‘n ontwikkelingsgeleentheid vir die seuns. Daardeur word hulle voorberei vir moontlike internasionale deelname op ‘n meer amptelike vlak in die toekoms.
Die stoeiers sal binne ‘n paar dae na hul aankoms in Duitsland deelneem aan een van Duitsland se grootste toernooie in die dorp Kleinostheim naby Frankfurt.
Daarna sal hulle tydens die res van die toer deel uitmaak van ‘n intensiewe oefenkamp om hul vaardighede op te skerp. Hulle sal ook die kans kry om onder leiding van wêreldgehalte Duitse afrigters deel te neem aan gesamentlike stoeisessies in stede soos Leipzig, Luckenwalde en Berlyn.
Hierdie toer is nog ‘n gevolg van goeie verhoudinge wat oor meer as ‘n dekade opgebou is tussen plaaslike stoei-administrateurs en die Duitsse stoeigemeenskap. Sewe soortgelyke toere is reeds oor die afgelope 12 jaar sedert 2006 onderneem om jong plaaslike talent te ontwikkel.
Volgens kenners het hierdie soort toere reeds ‘n beduidende verskil gemaak aan die gehalte van plaaslike stoeiers, asook aan hul vermoë om hulself te laat geld op die internasionale verhoog en in ’n vreemde omgewing.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
