Blou Bulle vereer presteerders van 2018
Die sukses van klub- en provinsiale amateurrugby onder jurisdiksie van die Blou Bulle in 2018 was verlede week duidelik by die unie se jaarlikse prysuitdelingsgeleentheid
Amateur- en semi-professionele rugby onder die jurisdiksie van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) kon verlede week weer ‘n jaar van vordering en sukses vier toe presteerders van die 2018 seisoen by ‘n spesiale funksie op Loftus Versfeld vereer is.
Hoewel die Blou Bulle se professionele spanne die afgelope seisoen nie die sukses behaal het wat vooraf van hulle verwag is nie, was daar vanjaar reuse vordering in die amateurgeledere.
Die vier oorblywende senior Carltonliga klubs het die krag van klubrugby in Pretoria bewys met hul oorheersing van die interprovinsiale Super Klubliga, terwyl verskeie klubspelers van Pretoria die geleentheid gekry het om verteenwoordigende rugby te speel ná die herlewing van die Loftus 200 span.
Op onder-20 vlak het verskeie klubspelers van Pretoria die geleentheid gekry om vir provinsiale spanne in die Curriebeker B-afdeling te speel, terwyl enkele presteerders selfs uit plaaslike klubspanne deur Curriebeker unies in die Premierliga gebuik is.
Onder die top klubspanne het Tukkies vanjaar sake oorheers en daarom was dit te wagte dat dié klub se spelers en afrigters die toekennings in hul afdeling sou oorheers.
Terwyl Tuks as klub van die jaar aangewys is, is hul hoofafrigter, Nico Luus, as afrigter van die jaar vereer.
Tuks se belowende senter, Johan Grobler, is ook as Carltonbeker A-liga speler van die jaar aangewys.
ABE Midas Naka Bulle het ook twee pryswenners opgelewer. Anton Bestwick was die top puntemaker van die jaar, terwyl Kefentse Mahlo uitgestaan het as die top driedrukker in dié liga.
Onder die juniors is Tuks se Luke Heyns aangewys as onder-21 speler van die jaar. Gustav de Jager van ABE Midas Naka Bulle, wat later in die seisoen ook vir die Goue Leeus se o.19 span uitgedraf het, is as onder-20 speler van die jaar vereer.
Die Limpopo Blou Bulle se onder-20 span het hoofsaaklik bestaan uit klubspelers van Pretoria en Xander Kruger van Tuks is as die Limpopo Blou Bulle se beste onder-20 speler aangewys.
Nog ‘n Tukkie, WJ Strydom, is as die Blou Bulle se 7’s speler van die jaar aangewys.
Die Blou Bulle se beste vrouespeler van 2018 is Nolwazi Hlabangane en Phillip Mulder was vanjaar die unie se beste speler by die interprovinsiale Platteland toernooi.
Op klubvlak in die laer ligas het Martin Shoima met die louere weggestap as die Carlton B-liga se speler van die jaar, terwyl Henry Heck die Carlton C-liga se beste speler was.
Die beste afrigters in die laer ligas is ook vir hul prestasies vereer en André Grundlingh is aangewys as die Carlton B-liga afrigter van die jaar. In die Carlton C-liga was Morgan Pienaar die beste afrigter, terwyl Peter Moyo die eer as beste ontwikkelings-afrigter ontvang het.
Ere-toekennings is gemaak aan verskeie lede van die media, verteenwoordigers van borge en personeellede van die BBRU vir hul bydrae om amateurrugby te bevorder.
Die Limpopo Blou Bulle se onder-20 span is vanjaar deur afrigters uit plaaslike klubs gebrei en die unie het dié afrigtingspan in geheel vereer vir hul sukses.
Dieselfde geld vir die afrigters en spanbestuur van die Blou Bulle se senior vrouespan, wat vanjaar weer deeglik van hulself rekenskap gegee het en selfs ‘n paar Springbokke opgelewer het.
Spesiale eerbewyse is toegeken aan Jannie van der Mescht en Barend van Graan, twee uittredende direkteure van die Blou Bulle Maatskappy, wat albei ook amateurrugby gedien het in hul dekadelange verbintenis met rugby.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie






















