Blou Bulle se toekoms lyk beter ná stormagtige tydperk
Uit die Blou Bulle Maatskappy se jongste jaarverslag blyk dit dat die nuwe bestuur op Loftus Versfeld stadig maar seker besig is om die skip na kalmer waters te stuur.
Na ‘n paar stormagtige jare, waarin die Blou Bulle Maatskappy (BBM) op verskeie fronte deur diep waters gegaan het, lyk dit of daar uiteindelik stabiliteit op die horison verskyn het vir dié beleërde Suid-Afrikaanse rugbyreus.
Hoewel die Bulle vanjaar in beide die SuperRugby- en Curriebeker toernooie onderpresteer het, het ondersteuners van die span verlede week tydens die Bloubul Rugby-unie se algemene jaarvergadering ten minste ‘n paar brokkies goeie nuus gekry.
Die beste nuus was dat die bestuur van die BBM klaarblyklik daarin geslaag het om die reuse verliese wat hulle in die vorige boekjare gely het, om te keer. Volgens Willem Strauss se jaarverslag as nuwe voorsitter van die maatskappy sal die BBM in 2018 waarskynlik ‘n wins toon.
Hierdie vooruitsig staan in skrille kontras met die verliese wat in vorige boekjare gely is en wat ook ‘n negatiewe effek op die bankbalans van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) gehad het.
Soos vroeër vanjaar deur Rekord gerapporteer is, het die BBM miljoene rand by die BBRU geleen, nadat die unie voordeel getrek het uit die ontwikkeling van die Loftus Park kompleks reg langs die Loftus Versfeld stadion. Weens verskeie faktore is die kanse skraal dat die maatskappy dié geld binnekort sal kan terugbetaal.
Faktore soos beter finansiële bestuur, die uitverkoopte toets tussen die Springbokke en die All Blacks wat vanjaar op Loftus Versfeld aangebied is, asook grootskaalse besnoeiing van personeel het sake egter drasties verander en daarom kan ‘n wins vir die maatskappy in die vooruitsig gestel word.
Die BBM erken egter dat drastiese verhoging van toeskouergetalle by wedstryde van die Bulls en die Blou Bulle die enigste realistiese oplossing is om die skip finansieel op kalmer waters te hou.
Hiervoor sal die spanne natuurlik beter moet presteer en die BBM staan dus voor ‘n reuse uitdaging om die regte keuse te maak ten opsigte van die spelers wat in ‘n veranderende professionele opset behou word, asook die keuse van ‘n afrigter en bestuurspan vir die komende SuperRugby toernooi.
Die hervestiging van ‘n unieke Bloubul kultuur onder die nuwe bestuurspan en gesamentlike doelwitte wat binne die hele spanopset nagestreef word, word in die BBM se jaarverslag genoem as ‘n ononderhandelbare vereiste op die pad vorentoe.
Die BBM verklaar ook dat daar ‘n teenvoeter bewerk moet word vir die stroom spelers wat die land verlaat om in Europa en Japan te gaan speel. Daar sal gepoog word om spelers vir langer termyne te kontrakteer en om dit reg te kry word voorgestel dat ‘n geleentheid om teen die Britse en Ierse Leeus van 2021 te speel een van die geelwortels moet wees om spelers langer in Suid-Afrika te probeer hou.
Met die uittrede van twee direkteure van die BBM uit die geledere van die BBRU het daar ook twee vakatures ontstaan. Twee dinamiese jong administrateurs, wat albei ‘n jaar gelede as vise-presidente van die BBRU aan boord gekom het, is as nuwe direkteure verkies. Hulle is Theuns Reynolds , voorsitter van die Tuks Rugbyklub en Ian Herbst, voorsitter van ABE Midas Naka Bulle. Dié twee manne het albei in ‘n kort tyd ‘n reuse verskil gemaak as administrateurs en as suksesvolle jong sakemanne word hulle ook as die regte manne beskou om leiding te gee op die BBM se direksie in die onseker tye wat voorlê.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie