Monument-wedloop lok top atlete
Die halfmarathon wat aangebied is om die Voortrekker Monument se 80ste bestaansjaar te vier was só gewild dat dit waarskynlik ‘n jaarlikse instelling gaan word.
Die Voortrekkermonument Halfmarathon is verlede week met groot sukses by die Voortrekkermonument aangebied.
Die wedloop het vanjaar deel gevorm van Voortrekkermonument se tagtigjarige verjaarsdagvieringe.
Sowat 1500 atlete het in perfekte weersomstandighede voor die trappe van die monument aangetree vir dié wedloop, wat uit ‘n halfmarathon, 10 kilometer wedloop en vyf kilometer pretdraf bestaan.
Atlete is op unieke wyse afgesit met die oorverdowende knal van ‘n kanon wat dateer uit die Tweede Vryheidsoorlog.
Die roete was soos verwag uitdagend, aangesien die terrein rondom die Voortrekkermonument heuwelagtig is. Daar is nietemin heelwat uitstekende prestasies behaal.
Wesley Mutai van TUT het die 10 kilometer vir mans in ‘n tyd van 33:51 gewen, terwyl Carla Molinaro van die Nedbank klub die damestitel danksy ‘n tyd van 41:41 verower het.
Die halfmarathon vir mans is deur Oupa Maseko van die Zwakalaklub gewen in ‘n tyd van 1:16,19, terwyl die damestitel deur Karen van Meter van Massmart opgeraap is in ‘n tyd van 1:30,34.
Om Van Meter se prestasie nog meer merkwaardig te maak, het sy die wedloop in die algehele sesde plek voltooi.
Verskeie bekende atlete het aan die wedloop deelgeneem. Dit sluit twee voormalige dames Comrades wenners, Caroline Wostmann en Frances Van Blerk in.
Die sukses van die Voortrekkermonument Halfmarathon is uit verskeie kringe lof ontvang en dit word in die vooruitstig gestel dat hierdie wedloop ‘n instelling op Pretoria se hardloopkalender sal word.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie

