Pretoria se meesters wêreldkampioen doen dit weer
Pretoria se kampioen stapper, Elsa Meyer, ryg steeds die medaljes in as meestersatleet op plaaslike én internasionale vlak.
Daar is steeds geen einde aan die prestasies van Pretoria se bekende meestersatletiek wêreldkampioen stapper nie.
Elsa Meyer, wat deelneem in die 70-74 jaar kategorie, is onlangs gekroon as Suid-Afrikaanse kampioen in die 20km stap tydends die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Kaapstad.
Dié uitstaande prestasie van Meyer word in perspektief gestel deur haar toekenning as dames stapper van die byeenkoms. Vir hierdie toekenning het sy ook die junior- en senior deelnemers uitgestof.
Meyer is ook vroeër vanjaar as Gauteng-Noord Atletiek se beste dames stapper aangewys, terwyl sy genomineer is as die wêreld se meestersatleet van die jaar.
Vroeër vanjaar was Meyer deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan die Wêreld Meestersatletiek Kampioenskap in Spanje gaan deelneem het. Dié byeenkoms het vanjaar atlete uit meer as 100 lande gelok.
Meyer het egter haar klas gewys deur met vier goue medaljes en ‘n silwer medalje terug te keer na Suid-Afrika.
Sy het die 5000m stap, sowel as die 10km stap en die 20km stap tydens die byeenkoms gewen, terwyl sy nog ‘n goue medalje én die silwer medalje in spanverwante items verower het.
Haar vierde goue medalje het sy saam met haar Suid-Afrikaanse spanlede, Winnie Koekemoer en Hildegard Vey ingepalm.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie
