Local sportSport

Quins-Bobbies vereer hul bestes van 2018

Die Quins-Bobbies Rugbyklub het onlangs hul beste presteerders van 2018 vereer en ook hul vennootskap met een van hul borge uitgebrei, om gereed te kan wees vir die opwindende 2019 seisoen wat voorlê.

Hoewel die Quins-Bobbies Rugbyklub (QBR) vanjaar, in hul tweede bestaansjaar, nie die sukses van hul eerste jaar kon herhaal nie, het dié klub steeds genoeg rede gehad om met trots na die 2018 seisoen terug te kyk op hul onlangse jaareindfunksie.

Dié klub het aan die begin van die seisoen heelwat van hul staatmaker spelers verloor, terwyl een van die afrigters van hul eerstespan, Nico Luus, ook deur Tukkies gewerf is.

Hoewel QBR se eerstes dus die 2018 seisoen met ‘n agterstand begin het, het hulle stelselmatig sterker geword en uiteindelik deeglik van hulself rekenskap gegee in die Carltonbeker liga, asook die nuwe interprovinsiale Super Klubliga.

Vir hierdie prestasie is die klub se eerstespan verlede week as span van die jaar aangewys, by ‘n funksie waartydens QBR se A-veld ook herdoop is na EasyPay Park.

Dié nuwe naam volg nadat die vennootskap tussen die klub en EasyPay bekendgemaak is. Herman Kotze, Hoof Uitvoerende Beampte van die Net1, eienaar van EasyPay, het die amptelike inhuldiging van EasyPay Park waargeneem.

Kotze het aan Rekord gesê dat QBR se waardes, visie en toewyding tot diens aan die gemeenskap ooreenstem met dié van sy maatskappy en dat hulle graag ‘n bydrae wil lewer om klubrugby se voortbestaan op ‘n hoë vlak te verseker.

QBR het ook verskeie spelers vereer vir hul puik vorm en uitstaande prestasies gedurende die afgelope seisoen.

Na ‘n sterk kompeterende seisoen in die Blou Bulle se junior ligas, waar die standaard jaarliks verbeter, is Japie Kleinhans as die klub se onder-20 speler van die jaar aangewys, terwyl Bandile Zuma die onder-21 speler van die jaar is.

Owen Berry is aangewys as QBR se junior speler wat vanjaar die beste vordering getoon het.

JJ Nel is aangewys as QBR se beste derdespan speler, terwyl Bees Harris as die speler van die jaar in die tweedespan bekroon is.

Onder die seniors is daar ook ‘n paar ander toekennings gemaak. Die speler wat uit dié geledere die beste vordering getoon het, was Kowie Roos.

Attie Joubert is aangewys as die klub se mees lojale speler van 2018 en Hendrik Mulder is vereer as die klub se top puntemaker van die jaar.

Die klub se gereelde eerstespan kaptein, Jan-Hendrik Bosman, is vereer vir sy uitstaande leierskap. Bosman speel deesdae haker, maar hy het soms ook as losvoorspeler diens gedoen, waar hy oorspronklik naam gemaak het in die Carltonliga.

Laastens was dit tyd om die belangrikste trofee van almal toe te ken – QBR se speler van die jaar. Dié eer het die vurige bossiekop-agtsteman, Carling Forwood, te beurt geval. Forwood het nie net vir QBR uitstekende spel gelewer nie, maar hy was tot baie onlangs nog in Europa, waar hy ook sy puik vertonings in die Duitse klubliga voortgesit het.

Met die bystand van EasyPay en ‘n paar ander borge en die behoud van ‘n paar staatmakers in spelersgeledere lyk dit of QBR volgende jaar weer hul man behoorlik sal kan staan in die uitgebreide Volcano Super Klubliga, wat ook onlangs bekendgestel is.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button