Centurion rugbyklub gereed vir die uitdagings van 2019
Nuwe innoverende planne word tans by die Centurion Rugbyklub geïmplimenteer om dié klub voor te berei vir nuwe Valcano Superliga, wat volgende jaar groot eise aan Carltonbeker klubs sal stel.
As dit van die nuwe bestuur van die Centurion Rugbyklub afhang, het hul teenstanders in volgende jaar se Volcano Superliga rede om nou reeds vreesbevange te raak.
Vier van dié klub se spanne het vanjaar vir die uitspeelrondtes van die Super Klubliga gekwalifiseer. Centurion se nuwe bestuur mik egter hoog en hulle wil in 2019 graag verbeter op die afgelope drie seisoene se prestasies.
Centurion het in 2016 laas die Carltonbeker gewen, terwyl hul junior spanne die afgelope paar jaar ook besonder goed presteer het en selfs titels gewen het.
Daar heers egter opgewondenheid en ‘n nuwe positiewe gees by dié klub, terwyl die nuwe bestuur vol planne is om Centurion te laat voldoen aan hul hedendaagse status as semi-professionele klub.
Hoewel die klub se nuwe voorsitter, Paul Roos, innoverende planne het, glo hy terselfdertyd ook dat tradisionele rugbywaardes deel van die grondslag en kultuur van die klub moet bly.
Roos is ‘n progressiewe leier wat nie net die klub se tradisionele kultuur wil beskem nie, maar ook die kohesie by Centurion gesond wil hou.
Een van die innoverende skuiwe wat onder die nuwe bestuur gedoen is, is die aanstelling van ‘n klubkaptein. Blendin Badenhorst, ‘n bemarkingspesialis en ou bekende by die klub, is vir dié pos gekies. Sy taak sal hoofsaaklik wees om as klankbord en kommunikasiekanaal te dien tussen die klub se spelers en die bestuur.
Onder Roos se leiding is ‘n nuwe resep gevolg om afrigters en bestuurders vir 2019 aan te stel. Dit beteken dat heelwat jong entoesiastiese manne volgende jaar die geleentheid sal kry om deel van die senior klub se afrigtingspan te word.
Die suksesvolle en gewilde Riaan Brand sal in 2019 steeds Centurion se hoofafrigter wees. Die bestuur het egter daarin geslaag om sy voorganger, die voormalige Springbok stut Christo Bezuidenhout, terug te lok om Brand by te staan by die eerstespan. Bezuidenhout word beskou as een van die beste skrum afrigters in Pretoria en sy terugkeer as voorspeler afrigter van Centurion sal ‘n reuse bate vir die klub wees.
Centurion het die afgelope jare redelik goed daarin geslaag om ‘n volwaardige gemeenskapsklub te wees. ‘n Verbeterde bemarking- en werwingstelsel word ook in die vooruitsig gestel om veral plaaslike skoolverlaters vir die klub se junior spanne te werf, terwyl daar in hierdie verband ook reeds saamgewerk word met die bekende Centurion Akademie.
Alle navrae oor Centurion rugbyklub kan gerig word aan die klubbestuurder, Charles Pelser, by 060-972-7852.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

