Tiener van Centurion kompeteer met gesoute spelers op yshokkie baan
Hoewel sy vanjaar eers 16 jaar oud geword het, sal ‘n skooldogter van Centurion volgende maand deel wees van die nasionale vroue yshokkiespan wat aan die wêreldkampioenskap in Kaapstad gaan deelneem.

Wanneer die Suid-Afrikaanse vroue yshokkie span vroeg in 2019 aantree om te kompeteer in die wêreldkampioenskap (Afdeling IIB) in Kaapstand, sal ‘n 16-jarige skooldogter van Centurion geskiedenis maak.
Anchen Loubser (16) van Centurion sal by dié kampioenskap as die jongste lid van die Suid-Afrikaanse nasionale vrouespan kompeteer teen ervare spelers van lande soos Bulgarye, België, die Oekraïne en Hong Kong.
Die feit dat sommige van haar teenstanders byna dubbel haar ouderdom sal wees, skrik Loubser egter nie af nie. Sy kan nie wag vir die aksie om te begin, sodat sy haar vernuf op die yshokkiebaan teen internasionale kompetisie kan toets nie.
Loubser se besonderse prestasie om op so ‘n jong ouderdom vir die Suid-Afrikaanse span gekies te word is selfs meer merkwaardig as in ag geneem word dat sy vier jaar gelede vir die eerste keer haar voete op ’n yssskaatsbaan gesit het.
Dié aanvallige jong dame was destyds nog ‘n leerling aan die Hoërskool Zwartkop, waar sy veral op die atletiekbaan uitgeblink het. Sy het ook op laerskool gewone hokkie vir die skool gespeel, maar van yshokkie het sy nie veel geweet nie.
Nadat sy egter saam met vriende die nuwe ysskaatsbaan by die Forist Hill winkelsentrum in Centurion besoek het, was sy só versot op ysskaats, dat sy ‘n rede gesoek het om meer tyd op die baan deur te bring.
Daarna het sy kontak gemaak met die plaaslike yshokkie klub by Forist Hill en toe sy eers die opwinding en aksie van dié sport ervaar, het Loubser net gewéét dit gaan deel van haar lewe word.
Intussen is sy na haar eerste jaar van deelname (2014) deur die Forist Rats yshokkieklub vereer as junior sportvrou van die jaar, terwyl sy die 2015 seisoen as die top doelskieter onder alle vrouespelers afgesluit het.
Verlede jaar het Loubser ‘n terugslag beleef toe ‘n ernstige kniebesering haar byna die hele seisoen van die baan gehou het.
Sy was egter só ernstig oor haar sport dat sy aan die begin van 2018 na die Pretoria Capitals klub in die ooste van Pretoria (The Grove Mall) geskuif het, aangesien daar vir haar as vrouespeler beter geleenthede sou wees. Van die land se top afrigters is ook by dié klub betrokke.
Louser se skuif na die Pretoria Capitals was blykbaar die regte besluit, want haar loopbaan het vanjaar in die vinnige baan beland én gefloreer. Nadat sy haar onder-18 Gauteng kleure verwerf het, is sy sommer gou gekies vir die nasionale junior vrouespan – ook bekend as die Junior Panthers.
Na die interprovinsiale kampioenskap in September, is sy deur die keurders nadergetrek om by die senior nasionale vrouespan aan te sluit.
Intussen het sy by die Domus Percipio privaatskool in Centurion aangesluit, waar sy beoog om ‘n internasionale matriek-kwalifikasie te behaal. Dié kwalifikasie sal haar ook toegang gee tot die College Sports America program, waardeur sy hoop om ‘n beurs te kry om in Kanada te gaan studeer en natuurlik ook yshokkie te speel.
Op die kort termyn fokus Loubser egter op haar deelname aan die wêreldkampioenskap in Kaapstad, waar sy beoog om tussen 13 en 18 Januarie volgende jaar in die kleure van die nasionale vrouespan dosyne doele aan te teken vanuit haar posisie in die voorste linie op regter vleuel.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

