Verskeie plaaslike spanne triomfeer by sagtebal streekstoernooi
Verskeie plaaslike spanne het koning gekraai in hul onderskeie ouderdomsketegorieë by die onlangse inster-streek sagtebal toernooi wat in Dinokeng Noord-Oos van Pretoria aangebied is.

Plaaslike sagtebalspanne van Gauteng-Noord het puik vertoon by die onlangse Inter-streek skoletoernooi, wat by Camp Discovery in die Dinokeng reservaat naby Pretoria aangebied is.
Tydens dié toernooi het spanne uit vyf streke (Tshwane, Ekurhuleni, Johannesburg, Kwena en KwaZulu-Natal) sake uitgespook om die kampioenskapsmedaljes.
Hoewel die toernooi amptelik as ‘n ontwikkelingstoernooi gereken word, was verskeie sagtebal kenners dit eens dat die standaard van sagtebal wat opgedis is baie hoog was.
Deelnemende spanne en beamptes was ook besonder beïndruk met die puik fasiliteite van die
Camp Discovery sport- en kampterrein. Die toernooi is deur die Kwena streek (Noordwes) aangebied.
Vier plaaslike spanne het daarin geslaag om as kampioene by die toernooi gekroon te word.
Beide Gauteng-Noord se onder-13 spanne, die seuns- en meisies Blue Sox spanne, het hul afdelings gewen.
In die onder-15 ouderdomsgroep het die plaaslike meisies (ook Blue Sox) ook koning gekraai.
Die merkwaardigste prestasies van ‘n plaaslike span is egter dié van die onder-19 White Sox meisies. Dié span is inderdaad ‘n onder-16 span, wat teen die ander streke se onder-19 meisies meegeding het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



