Bulls se diepte vir SuperRugby lyk goed
Saterdag se SuperRugby opwarmingswedstryd op Loftus Versfeld teen die Lions het gewys dat die Bulls heelwat diepte het, maar daar sal ook vrae wees oor ‘n paar spelers wat Pretoria verlaat het.
Hoewel slegs enkele ernstige aanspraakmakers op plekke in die Bulls se SuperRugby span Saterdag betrokke was by die opwarmingswedstryd teen die Lions op Loftus Versfeld, het dié kragmeting tog bevestig dat Pote Human se span heelwat diepte het om vanjaar se toernooi met vertroue in te gaan.
Die vertonings van die twee jong slotte, Eli Snyman en Ruan Nortjé, was ‘n bewys dat Pretroia se slotfabriek nog werk. Ongelukkig vir dié twee manne moet hulle met Springbokke soos Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins kompeteer.
Op skrumskakel het die jong Marco Janse van Vuuren gewys dat hy nie net Pretoria toe geskuif het om dalk Curriebekerrugby te speel nie. Hy sal beslis die Bulls se twee Springbok-skrumskakels, asook André Warner, op hul tone hou en sorg vir gesonde kompetisie in dié belangrike posisie.
Janse van Vuuren is ‘n gewese Suid-Afrikaanse skole-speler en hy was in 2005 en 2006 deel van die Junior Bokkies se onder-20 wêreldbeker aanslag. Hy is egter deur die Lions vrygestel om by die Blitsbokke aan te sluit, maar dié lenige skrumskakel met ‘n puik skopvoet het intussen besluit om terug te keer na die 15-man kode, waarna hy by die Bulls aangesluit het.
Daar was vooraf ook baie belangstelling om die vertoning van Saterdag se twee vleuels dop te hou. Die gewese Blitsbok, Rosko Specman, het met ‘n puik vertoning op die aanval en verdediging gewys dat hy reg is om aan die Bulls weer die X-faktor op vleuel te bied.
Hoewel Cornal Hendricks nie veel kanse gekry het op regtervleuel nie, het hy tog effens verroes en senuagtig gelyk. ’n Glips of twee op die verdediging het gewys dat daar nog aan Hendricks se skerpheid gewerk sal moet word.
Die Bulls is Saterdag gelei deur die flank Ruan (Stoney) Steenkamp. Dié rugbykryger het ‘n puik vertoning gelewer en ‘n mens hoop maar dat Human ‘n plek vir hom sal vind in sy groter groep tydens die SuperRugby-toernooi. Steenkamp sal nooit enige span in die steek laat nie en sy leierskap sal goud werd wees vir die Bulls in die moeilike jaar wat voorlê.
Twee manne wat intussen die Jukskeirivier oorgesteek het om vir die Lions te gaan speel het ook hul kans gebruik om te wys dat die Bulls se bestuur waarskynlik twee keer moes dink voor hulle laat gaan is.
Na ‘n goeie skrumvertoning deur die Bulls in die eerste helfte het die jong vaskopstut, Frans van Wyk, die Lions se skrum merkwaardig verstewig in die tweede helfte. Goeie vaskoppe is juis skaars en die Bulls kan in die toekoms nog lang trane huil oor die verlies van dié jong stut.
Nog ‘n gewese SA Skole-speler en Junior Bokkie, Jan-Henning Campher, se stewige vertoning op haker vir die Lions sal ook vrae laat verdiep oor die Bulls se keuse om die 37-jarige Schalk Brits nader te trek vir die SuperRugby- toernooi, terwyl hulle dié talentvolle jong haker oorbodig verklaar het op Loftus.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.






