Abrie van Staden byeenkoms lewer kookwater atletiek op nat baan
Ten spyte van ‘n nat baan het atlete van die sewe top skole by die jaarlikse Abrie van Standen atletiekbyeenkoms verlede week puik vertonings gelewer.
Nie eers die welkome reën wat Vrydag in Pretoria uitgesak het, kon die atlete van die sewe puik deelnemende atletiekskole keer om kookwater atletiek op te lewer by Hoërskool Garsfontein se jaarlikse Abrie van Standen Atletiekbyeenkoms nie.
Die byeenkoms is aangebied in die Tuks Atletiekstadion op die Universiteit van Pretoria se LC de Villiers sportkampus.
Atlete se vertonings by dié byeenkoms het bewys dat die standaard van die atletiek jaarliks verbeter. Daarvan getuig die 34 byeenkomsrekords wat Vrydagaand in die slag gebly het.
Nie minder nie as 20 seuns en 14 meisies het op die baan en in verskeie velditems eersteklas vertonings gelewer en in die proses die rekords laat spat.
Die Garsies was gasheer vir sommige van die land se beste atletiekskole, wat uit Gauteng en Noordwes opgeruk het vir die aksie. Die Hoërskool Oos-Moot was die ander verteenwoordiger uit Pretoria en atlete van dié skool het terloops gewys dat hulle gereed is om hulself vanjaar onder die stad se bestes in die A-bond te vestig, nadat hulle verlede jaar weer daarheen gepromoveer is.
Pretsige College van Hammanskraal was die ander verteenwoordiger uit die Tshwane Metro en dié skool se atlete het veral op die baan weer hul staal gewys met puik vertonings.
Ander deelnemende skole was Hoërskool Dr. EG Jansen van Boksburg, Hoërskool Transvalia van Vanderbijlpark, Helpmekaar Kollege van Johannesburg en Hoërskool Rustenburg uit die Noorwes provinsie.
Hoewel die reënweer by tye die byeenkoms bedreig het, kon die meeste van die items afgehandel word. Slegs die 3000m middelafstand-items, wat teen die einde van die program net voor die aflosse sou plaasvind, is uiteindelik gekanselleer.
Die reën het gelukkig effens bedaar en die aflosse – wat natuurlik altyd ‘n hoogtepunt by skole atletiekbyeenkomste is – kon afgehandel word.
Agt seuns en vier meisies het daarin geslaag om tydens die byeenkoms prestasies te lewer wat meer as 1000 punte op die bekende ABSA tabel werd was.
In hierdie opsig staan die name van Calvin Scott van Garsfontein en Micyla Botha van Oos-Moot uit. Scott se rekord afstand van 18,30 (1189 ABSA punte) in die gewigstoot vir seuns onder-15 was die beste vertoning van die dag.
Botha het dit egter reggekry om twee keer deur die 1000-punt grens te bars met haar vertonings in die spiesgooi en verspring vir dogters onder-14. Haar 39,33 meter (1187 ABSA punte) in die spiesgooi en 5,41 meter (1045 ABSA punte) in die verspring was ook albei byeenkomsrekords.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

























