Klofies se eerste Dreyer Campbell atletiekbyeenkoms sorg vir aksie, drama en emosie
Hoërskool Waterkloof se eerste Dreyer Campbell gedenkbyeeenkoms het uitgestaan weens die hoogtepunte op die atletiekbaan én van die baan af.
Toeskouers wat verlede Vrydagaand die Hoërskool Waterkloof se eerste Dreyer Campbell gedenk atletiekbyeenkoms bygewoon het sal dié uitstaande dag van aksie, drama en emosie nie maklik vergeet nie.
Die aksie het uitstekende prestasies ingesluit deur atlete van hoërskole wat uit vier provinsies tot so ver as die Weskaap na die Tuks Atletiekstadion opgeruk het. Saam met die gasheerskool het top atletiekkragte soos Afrikaans Hoër Seuns– en Meisieskole van Pretoria, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Kemptonpark, Grey Kollege uit Bloemfontein, Wynberg Boys High uit die Weskaap, die Tuks Sportskool en die Zwartkop Christain School aan die byeenkoms deelgeneem.
Dan was daar die drama van die twee 600m vertoon-wedlope waaraan sommige van die land se beste senior atlete deelgeneem het. Veral die vroue-wedloop, waar internasionale sterre soos Gena Löfstrand en Wenda Nel in ‘n kwaai tweestryd gewikkel was, het die toeskouers op hul voete gehad. Löfstrand het dié wedloop op ‘n nat baan uiteindelik gewen.
Die weer het natuurlik self vir drama gesorg en dit was veral die dreigende donderweer wat die byeenkoms vir ‘n tyd lank opgehou het. Daarna is die aksie op ‘n nat baan voortgesit, maar die kort hekkies-items moes ongelukkig in die slag bly. ‘n Paar velditems is ook gekanselleer weens nat oppervlaktes.
Weens die feit dat hierdie die eerste Dreyer Campbell gedenkbyeenkoms was, kon die emosionele aspek uiteraard nie vermy word nie. Campbell was vir jare Klofies se atletiekdirekteur en hy was jaarliks met groot sukses die dryfkrag agter die Waterkloof-Tuks prestige byeenkoms, wat sedert 2007 aangebied is. Toe Campbell verlede jaar oorlede is, is daar besluit om die byeenkoms voortaan na hom te vermoem.
Daar is dus tydens die byeenkoms op paslike wyse hulde gebring aan Campbell in ‘n seremonie waarin die skool se nuwe hoof, Chris Denysschen, en die nuwe atletiekdirekteur, Bonnie Joyce, leiding geneem het.
Campbell het ‘n besondere liefde vir Skotese musiek gehad en twee doedelsak-spelers het by die huldigingseremonie ter era van Campbell die Skotse volkslied gespeel, waarna ‘n simboliese fakkel aan Campbell se vrou, Adri en seun Ian, oorhandig is.
Ten spyte van die enkele items wat weens die nat baan nie kon plaasvind nie, is die toeskouers getrakteer op skitter atletiek.
‘n Reuse totaal van 45 byeenkomsrekords het in die slag gebly en 13 atelete het boonop daarin geslaag om prestasies te lewer wat meer as 1000 punte op die bekende ABSA tabel werd was.
Drie atelete het dit reggekry om 1200 punte op dié tabel te haal. In die diskus item vir seuns onder 14 het Dieter Schubert van Affies en Xander Human van Grey Kollege albei 1200 punte behaal met hul onderskeie afstande van 51,88m en 48,76m.
Die top prestasie in ‘n baanitem het gekom van Affies se eie lemnaeler, Ntando Mahlangu. Sy tyd van 1:49.80 in die 800m vir seuns onder 17 was ook 1200 punte werd.
Klofies se jong naelloper, Breyten Connoway, het ook weer die oë laat rek met sy vertoning in die 200m wedloop vir seuns onder 14. Sy tyd van 22,80 was 1100 punte werd op die ABSA tabel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.











