Local sportSport

Legendariese Barend van Graan groet Loftus ná 35 jaar

Die uittredende Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Maatskappy se loopbaan is besaai met hoogtepunte waarby geen ander administrateur in Suid-Afrika kan kers vashou nie.

Toe Barend van Graan op 31 Januarie vanjaar vir oulaas by die hoofhek van Loftus Versfeld in Kirkness-straat uitry, het die einde van ‘n era vir Bloubul rugby ook aangebreek.

As rugbyspeler was hy in sy eie woorde ‘n “baie gemiddelde vaskopstut, te kort om ‘n goeie slot te wees en te stadig om naam te maak as ‘n losvoorspeler”. Daarom het sy rugbyloopbaan nooit verder ontwikkel as Hoërskool Tuine se eerstespan en die Oostelikes Rugbyklub se senior reserweliga span nie.

Maar dit was van die veld af, as administrateur, waar dié predikantseun ‘n legende sou word en baie diep spore in rugby reg oor die wêreld sou trap in die sport waarvoor hy so lief is.

Die era van Barend van Graan het inderdaad reeds in Augustus 1983 begin toe hy vir die eerste keer ‘n voltydse pos by Loftus Versfeld as rugby-administrateur aanvaar het. Voorheen was hy sewe jaar lank ‘n Geskiedenis en Afrikaans onderwyser by sy alma mater, Hoërskool Tuine. Maar toe word hy as assistent bestuurder van die Noord-Transvaal Rugby-unie (NTRU) aangestel. Daar, onder die bekwame leiding van die legendariese Mac van Vuuren, het sy pad van langer as 35 jaar as sportadministrateur begin.

Sedertdien het Van Graan ‘n pad gestap wat vandag van hom waarskynlik Suid-Afrika se mees ervare en veelsydige sportadministrateur maak.

Die afgelope paar seisoene, toe dinge by Loftus Versfeld nie altyd volgens plan uitgewerk het nie en die Bulle soms op die veld gesukkel het, was daar baie leunstoel kenners wat Van Graan se kop langs die braaivleisvure en via sosiale media wou eis. Maar min van hulle het ooit dié man se CV geken en besef dat hy juis die een administrateur in Suid-Afrika is wat wéét hoe om die ratte van ‘n sukkelende sportspan se enjin weer te olie.

Behalwe vir sy verbintenis van 35 jaar met die Blou Bulle en Loftus Versfeld was hy sedert die koms van professionele rugby as verteenwoordiger van die SAIL-groep ook op een of ander stadium betrokke by presies die helfte van die ander 14 professionele rugby-unies in Suid-Afrika.

Benewens sy enorme rol in rugby-administrasie het Van Graan verder ook bygedra om die administrasie van krieket in Oos-London (Grens) én by die Warriors as franchise van die hele Oos-Kaap reg te ruk.

Laastens het Tennis Suid-Afrika ook sy kennis getap met die vestiging van hul nasionale akademie, die SA World of Tennis.

Vra ‘n mens Van Graan uit oor die hoogtepunte van sy loopbaan, is daar twee goed wat vir hom uitstaan.

“Dis lekker om bekers te wen en kampioenspanne te bou, maar vir my bly die grootste bevrediging steeds die kans wat ek kon kry om jong mans te ontwikkel en te vorm deur die unieke geleenthede van ‘n spansport soos rugby. Die ontwikkeling van mense-kapitaal is en bly vir my ons as administrateurs se eerste doel en strewe,” is sy onmiddelike antwoord.

Dan is daar ook die rol wat hy kon speel om Suid-Afrikaanse rugby-administrasie te slyp en te skaaf vir die professionele era.

“Aan die begin was dit chaos. Ons was jare agter ander sportsoorte en dit was ‘n rowwe rit vol duur lesse om uiteindelik ‘n werkbare model te kry,” vertel hy.

Dié aspek verander steeds, veral met faktore soos die wisselkoers van die rand en volgens Van Graan sal oop koppe en nugter besluite nodig wees om Suid-Afrikaanse rugby kompeterend te hou teen die res van die wêreld.

Terwyl Noord-Transvaal en later die Blou Bulle sedert die begin van sy betrokkenheid regdeur ‘n krag in Suid-Afrikaanse rugby gebly het en gereeld die Curriebeker gewen het, was dit heel gepas gedurende die laaste fase van sy loopbaan, sedert hy in 2006 weer die leisels as Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) oorgeneem het, dat die Bulls se gloriejare as Suid-Afrika se suksesvolste SuperRugby span en driemalige kampioen van dié prestigeryke kompetisie in die suidelike halfrond aangebreek het.

Tydens sy verbintenis van 35 jaar met die Blou Bulle en Loftus Versfeld was daar soveel merkwaardige ander prestasies. Daar was die herbou van die noord-, suid- en oospaviljoene, wat die moderne Loftus sou uitbou tot ‘n wêreldberoemde stadion met 350 losies en die beste moontlike fasiliteite.

Toe volg die aanbou van die kompleks langs die B-veld met sy volledig toegeruste gimnasium, kleedkamers, stoorkamers, winkels en die bekende Trademarx restaurant – ‘n fasiliteit wat Loftus Versfeld uniek maak en deur ander unies begeer word.

Hier teen die einde van Van Graan se loopbaan is die prentjie voltooi met die ontwikkeling van Loftus Park, wat weereens aan dié stadion ‘n karakter en waarde gee waarvan ander unies wêreldwyd net kan droom.

Natuurlik was daar ook laagtepunte en teleurstellings in sy lang loopbaan. Maar hieroor is Van Graan kenmerklik realisties. As dit kom by kritiek, glo hy om die kaf van die koring te sif. Hy het egter baie respek vir die koring onder die Bulle se ondersteuners.

“Daar is nie nog ‘n unie met sulke lojale en passievolle ondersteuners nie en hulle verdien dit dat ons weer moet begin bekers wen,” sê hy.

Hoewel hy al aan die verkeerde kant van 65 is en hoewel hy Loftus Verself ná 35 jaar groet, voel Van Graan nog nie lus vir aftree nie. Hy het ‘n geleentheid gekry om as konsultant vir die Suid-Afrikaanse Rugby Werkgewers-organisasie veral te konsentreer op die ontwikkeling van jong administrateurs.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button