Maties klop Tuks naelskraaps in klipharde, opwindende Varsitybeker stryd
Toeskouers in die Tuks stadion is Maandag met klassieke Varsitybeker rugby getrakteer en dit was inderdaad jammer dat daar ‘n wenner moes wees, maar Maties was uiteindelik gelukkig om hul aartsvyand, Tukkie, naelkraaps te klop.
Die Universiteit van Stellenbosch (Maties) het die Universiteit van Pretoria (Tuks) Maandagaand in ‘n opwindende en spannende Varsitybeker wedstryd met 26-24 geklop.
Die manne van Stellenbosch sal egter self erken dat hulle effens gelukkig was om die oorwinning te behaal en enige van die twee spanne kon in hierdie rugbyfees as wenner van die veld gestap het.
Varsitybeker rugby kan nie meer opwindend raak as dit wat die toeskouers in die volgepakte Tuks Rugbystadion Maandagaand aanskou het nie.
Die wedstryd het teen ‘n duiseligwekkende tempo begin en die manne het eenvoudig nooit die voet van die versneller afgehaal nie.
Maties het beslis in Pretoria aangekom as die gunsteling, maar dit was gou duidelik dat Marius Verwey en sy manne nie van plan was om hierdie een vir hulle maklik te maak nie. Trouens, Tuks was van die afskop af eerder die span wat die inisiatief geneem het en met mening tot die aanval oorgegaan het.
Die manne van Stellenbosch het egter gou gewys dat hulle ook positiewe rugby gaan speel en hulle het met elke moontlike geleentheid die voordeellyn met mening aangeval.
Tuks het egter eerste bloed geruik toe loskopstut Ettienne Janeke vanaf ‘n lynstaan dryfbeweging oorgeduik het.
Nadat Tuks ‘n paar kanse verbrou het om hul voorsprong te rek, het Maties na sowat 25 minute met omgekeerde besit vanuit hul eie kwartgebied aangeval en dié beweging het uitgeloop op ‘n puik 7-punt drie vir vleuel Munier Hartzenberg.
Albei spanne het voor rustyd weer gedruk, wat die telling op 14-12 in die tuisspan se guns te staan laat kom het toe die manne gaan water drink.
Die tweede helfte was weer ‘n wikpplank stryd, maar Tuks het hulself soms onder druk geplaas met onnodige foute wat hulle baie momentum gekos het.
Die Kapenaars se derde drie, deur losskakel Jordan Chait, het ook gekom na ‘n reuse glips van Tuks op die verdediging en dié pasella drie het Tuks uiteindelik die wedstryd gekos.
Ook oor Maties se vierde drie sal daar nog lank gedebatteer word. Hoewel TV-skeidsregter Johann Greeff dit toegeken het, sou baie ander dit waarskynlik nie gedoen het nie. Maties se reserwe haker, Daniel Jooste, het ‘n bal in ‘n lynstaan vyf meter van die doellyn terug ontvang en vir die lyn geduik, maar hy was kort van die lyn. Of sy tweede beweging die lyn gehaal het en of dit wettig was, sal beslis ‘n omstrede onderwerp bly.
Tuks het egter weer teruggeveg en op ‘n stadium ‘n langafstand beweging met ‘n drie afgerond, maar hierdie keer het Greeff beslis dat daar ‘n hanteerfout in die beweging was. Dié drie sou sewe punte getel het en dit kon die wedstryd gelykop laat eindig het as die doelskop oor was.
Uiteindlik het Tuks wel ná aanhoudende dryfspel oorgeduik, nadat hulle in die doodsnikke besit by ‘n vaste skrum afgeneem het. Dit was egter net genoeg vir ‘n bonuspunt-nederlaag, wat die tuisspan darem nie met leë hande van die stryd laat afkom het nie.
Tuks se spelers en ondersteuners kan egter hul koppe hoog hou. ‘n Gelykp uitslag sou waarskynlik ‘n beter weergawe van die wedstryd gewees het, maar hierdie dapper span van Nollis Marais is nog lank nie klaar met die Varsitybeker van 2019 nie.
Moenie verbaas wees as ons hierdie twee spanne in April in die eindstryd sien nie.
PUNTEMAKERS:
TUKS: 24 Drieë: Ettienne Janeke, Werner Fourie, Jacobus Eloff . Doelskoppe: Tinus de Beer (3). Strafdoele: Tinus de Beer (1).
MATIES: 26 Drieë: Munier Hartzenberg (7-punter), HJ Luus, Jordan Chait, Daniel Jooste. Doelskoppe: Jordan Chait (2)
Skeidsregter: Jaco Pretorius
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




