Local sportSport

Naka Bulle lyk reg vir Gouebeker toernooi

Naka Bulle rugbyklub se eerstespan het die afgelope Saterdag in ‘n opwarmingswedstryd teen die Blou Bulle se SuperSport-beker span gewys hulle het die diepte om vanjaar ernstige aanspraakmakers op die Gouebeker klubtitel te wees.

Gereken aan ABE Midas Naka Bulle se vertoning in hul opwarmingswedstryd teen die Blou Bulle se tweedebestes, het dié klubspan van die Moot beslis ‘n goeie kans om vanjaar as Suid-Afrka se nasionale klubkampioen gekroon te word

Hoewel die Blou Bulle se SuperSport-beker span dié wedstryd met 24-18 gewen het, sou die Moot-manne beslis heelwat selfvertroue gekry het uit hul vertoning teen ‘n span waarvan 11 spelers reeds SuperRugby ervaring het. Die Blou Bulle se span het ook ‘n Springbok en ‘n Blitsbok ingesluit.

Marinus van der Watt se manne kon met ‘n bietjie geluk selfs die wedstryd gewen het. Hulle was sterk op die aanval, enkele meters van die doellyn af, toe hulle ongelukkig ‘n hanteerfout begaan het en die skeidsregter die eindfluitjie tot groot verligting van die professionele span van die Blou Bulle kon blaas.

Naka Bulle het aanvanklik gesukkel om momentum te bou, maar veral in die tweede helfte het hulle die wedstryd oorheers. Hulle het die enigste punte in dié helfte aangeteken en die Blou Bulle veral agterlangs laat bontstaan as hulle aan die hardloop gegaan het.

Voorlangs het ABE Midas Naka Bulle se manne ook hul man gestaan en veral in die lynstane het hul teenstanders gesukkel in die tweede skof.

Van der Watt het al sy plaasvervangers speelkans gegee en hy kan beslis tevrede voel met die diepte tot sy beskikking.

Naka Bulle is vir die Gouebeker toernooi (die nasionale klubkampioenskap vir klubs wat nie aan tersiêre instellings verbonde is nie) ingedeel in Groep-C saam met Sishen (Griekwas), Welkom (Griffons) en Bloemfontein Polisie (Cheetahs).

Hulle is ook in die gunstige posisie dat twee van hul ligawedstryde tuis gespeel sal word. Hul eerste wedstryd – op 9 Maart teen Sishen – sal as voorwedstryd vir die Bulls se kragmeting teen die Sharks op Loftus Versfeld afgehandel word.

Daarna speel ABE Midas Naka Bulle op 16 Maart teen Welkom op hul tuisveld in die Moot, terwyl hul laaste ligabepaling op 23 Maart teen Bloemfontein Polisie in Bloemfontein sal wees.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button