Tuks druk sewe keer, klop Wits oortuigend in Pretoria
Tukkies het Maandagaand in 'n Varsitybeker wedstryd op hul tuisveld teen Wits stadig begin, maar uiteindelik sewe drieë gedruk in hul bonuspunt oorwinning oor hul bure van anderkant die Jukskeirivier.
Tukkies het weer gewys dat hulle vanjaar met erns terug is in die Varsitybeker wedloop toe Nollis Marais se manne Wits op ‘n nat veld in Pretoria met 46-12 geklop het.
Die Johannesburgers het die wedstryd teen ‘n reuse tempo begin en van die afskop af verwoed aangeval. Na ‘n paar bewegings waarin hulle kruis en dwars oor die speelveld beweeg het, het ‘n gaping in Tuks se verdediging oopgegaan vir die besoekers se linkervleuel, Neil Nyembe, wat kon afrond.
Tuks het egter byna onmiddelik na hul teenstanders se eerste drie die insiatief oorgeneem. Hulle het baie veld gewen met hand-tot-hand dryfbewegings van hul pak voorspelers, terwyl die sterk senters Erich Cronjé en Lourens Pretorius ook die voordeellyn onophoudelik aangeval het.
Halfpad deur die eerste helfte het Tuks se eerste punte gekom van ‘n drie deur haker Werner Fourie, wat ‘n kliniese lynstaan dryfbeweging afgerond het.
Kort na die eerste waterbreuk het die reën begin uitsak in die Tuks Rugbystadion en onmiddelik het die spanne se strategie begin verander. Die twee losskakels, Tinus de Beer en Kurt Webster, het baie meer die skopstewels begin inlê en albei pakke voorspelers het meer met die bal in die hand begin dryf.
Vyf minute na Fourie se drie het Tuks weer so gemaak vanaf ‘n lynstaandryfbeweging en hierdie keer het Ruan Nortjé afgerond.
Wits het voor rustyd weer gaan druk toe heelagter Jared Fuller deur ‘n gaping geglip het, terwyl ‘n strafdoel van De Beer die rustydtelling op 13-12 in Tuks se guns te staan laat kom het.
Na rustyd het Tuks se voorspelers stelselmatig beheer oorgeneem en die besoekers veral in die skrums gekarnuffel.
Dewald Naudé het kort na die afskop ‘n mooi rolskoppie van De Beer opgevolg om te druk.
In die laaste kwart van die wedstryd het die reën bedaar en Tuks het hul oorheersing voorlangs baie goed begin gebruik m die bal weer lug te gee. Die gapings het agterlangs oopgegaan en nog vier drieë het in die laaste kwartier vir die tuisspan gevolg.
Tuks het uiteindelik welverdiend ná ‘n kliniese vertoning met 46-12 gewen en ‘n baie waardevolle bonuspunt verdien.
PUNTEMAKERS:
TUKS: 46 Drieë: Werner Fourie, Ruan Nortjé, Dewald Naudé, Reagen Oranje, Lourens Pretorius (2), Ciaran Dayaram (7-punt). Doelskoppe: Tinus de Beer (1), Christo Hamman (2). Strafdoele: Tinus de Beer (1).
WITS: 12 Drieë: Neil Nyembe, Jared Fuller. Doelskoppe: Kurt Webster (1)
Skeidsregter: Ruan Meiring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.



