Local sportSport

Bulls verras Lions in Johannesburg

Die Bulls het die Lions Saterdagmiddag op Emirates Airline Park in Johannesburg takties uitoorlê vir ‘n welverdiende oorwinning in ‘n Trans-Jukskei SuperRugby derby.

Die Bulls het deeglik teruggebons ná verlede week se nederlaag in Argentinië deur die Lions Saterdagmiddag op hul tuisveld in Johannesburg met 30-12 te klop.

Terwyl daar vooraf verwag is dat die Bulls voorlangs sou sukkel weens die afwesigheid van Lood de Jager en die Lions se erkende puik skrumvermoë, het die Pretorianers vriend en vyand verras met hul vertoning in die eerste helfte – veral in die vaste fasette.

Die manne in Blou het van die afskop af die tempo van die wedstryd bepaal en met ‘n goeie kombinasie van hardlooprugby en netjiese taktiese skopwerk, het Handré Pollard en sy manne aanhoudend op die aanval gebly.

Ongelukkig vir Pote Human se manne het hulle weer by verskeie geleenthede kort voor die doellyn balbesit verloor met onnodige en ongedwone hanteerfoute.

Die Bulls kon egter daarin slaag om hul oorheersing ten opsigte van gebiedsvoordeel en balbesit in punte om te sit deur die Lions tot foute te dwing. Pollard het dan vir die punte gesorg met strafskoppe na die pale.

Kort voor rustyd het die Lions se konsentrasie verslap en die Bulls kon met ‘n paar mooi bewegings weer vorder tot op hul doellyn, waarna Duanne Vermeulen met krag en determinasie oorgedryf het vir die eerste drie van de wedstryd.

Teen rustyd was die Lions duidelik in die moeilikheid met die telling op 0-14 in die besoekers se guns, maar Swys de Bruin se kommer sou eerders wees hoe sy span die gety kon draai en hul hande op die bal kon kry in die tweede helfte.

Soos te wagte het die tuisspan met nuwe energie en doelgerigtheid begin speel van die afskop af ná rustyd.

‘n Paar goedgeplaaste skoppe van Elton Jantjies het die Lions op die voorvoet geplaas en skielik kon hulle met hul voorspelers begin aanval. Dit het hulle ook gedoen ná ‘n lynstaan, wat tot vaskopstut Carlu Sadie se kragdrie gelei het.

Daarna het die Bulls weer die teuels vasgevat en ‘n paar strafdoele afgedwing, wat aan Pollard die kans gebied het om die telbord aan die rol te hou met ‘n paar strafdoele.

Die briljante buksie op flank, Marnus Schoeman, was egter die een Leeu wat eenvoudig nie wou gaan lê nie en dit was direk weens sy puik spel by die afbreekpunte en met dryfspel dat loskopstut Dylan Smith die Leeus se tweede drie kon gaan druk.

Hierna het die Lions stadig maar seker die inisiatief begin oorneem en veral die afbreekpunte oorheers, terwyl die Bulls se skrums ook begin sukkel het nadat Trevor Nyankane die veld verlaat het.

Die Lions het egter – waarkynlik uit oorywerigheid – ‘n paar dom foute gemaak, wat die Bulls deeglik uitgebuit het. Een hiervan het gelei tot Warrick Gelant se drie, vier minute voor die einde van die wedstryd.

Dié drie het ook die uitslag van die wedstryd bo alle twyfel geplaas en hoewel die Lions hard probeer het om ten minste ‘n bonuspunt te kry, kon hulle nie daarin slaag nie.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 30  Drieë: Duanne Vermeulen, Warrick Gelant. Doelskoppe: Handré Pollard (1). Strafdoele: Handré Pollard (6)

LIONS: 12 Drieë: Carlu Sadie, Dylan Smith. Doelskoppe: Elton Jantjies  (1). Strafdoele:  Elton Jantjies (0)

Skeidsregter: Paul Williams

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button