Local sportSport

Pretoria Rugbyklub en Quins-Bobbies pak mekaar in Naas Botha-uitdaagtoernooi

Pretoria Rugbyklub en hul bure, Quins-Bobbies, speel eerskomende naweek in die nuutgevestigde Naas Botha Rugbydag met al hul beskikbare spanne teen mekaar in ‘n opwindende Groenkloof derby.

Die herleefde Pretoria Rugbyklub gaan steeds van krag tot krag en dié klub skop hul seisoen eerskomende Saterdag af met ‘n interessante Groenkloof Derby teen hul tradisionele aartsvyand van oorkant Totiusstraat.

Pretoria en Harlequins was vir baie jare aartsvyande op die rugbyveld en dié twee klubs wil nou hul tradisionele wedywering voortsit met ‘n jaarlikse rugbydag wat vernoem gaan word na een van Suid-Afrika se beroemdste rugbyspelers van alle tye, wat op sy dag vir albei dié klubs uitgedraf het.

Die besture van die nuwe Pretoria Rugbyklub en Quins-Bobbies Rugbyklub, wat die Harlequins klub van ouds insluit, het besluit om voortaan jaarliks vroeg in die seisoen ‘n Naas Botha Rugbydag aan te bied, waartydens al die spanne van die twee klubs met mekaar sal meeding.

Quins-Bobbies het twee jaar gelede ontstaan toe Harlequins met Pretoria Polisie saamgesmelt het. Naas Botha het in die vroeë 1980’s sy militêre diensplig by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie gedoen en hy het dus ook vir die Bobbies van weleer uitgedraf, wat sy verbintenis met die nuwe rugbyfees nog meer stukrag gee.

Op Saterdag 9 Maart sal die eerste Naas Botha Rugbydag by Pretoria Rugbyklub aangebied word en die eerste wedstryde sal om 13:35 gelyktydig op die klub se A- en B-velde begin. Twee onder-20 wedstryde en vyf senior wedstryde sal deel uitmaak van die aksie.

Die hoofwedstryd tussen die twee klubs se eerstespanne sal om 17:30 afskop.

Ná hul sukses van verlede jaar, waarin hulle in hul eerste jaar sedert die herlewing van die klub twee eindstryde in die Blou Bulle se klubligas gehaal het, sien Pretoria uit na groter sukses vanjaar.

Volgens Jaco Basson, voorsitter en direkteur van rugby by Pretoria, is hulle reeds hard aan die werk vir hul deelname aan die nuwe interprovinsiale Volcano Trophy Toernooi. Hulle sal aan die toernooi deelneem met senior én onder-20 spanne.

Basson het aan Rekord gesê dat hul doelwit vir 2019 is om die Blou Bulle se top verteenwoordiger in die Volcano Trophy toernooi te wees en om die eindstryd van dié toernooi te haal.

Die klub se eerstespan het ‘n deeglike voorseisoen voorbereiding gehad onder die wakende oog van hul hoofafrigter, Jan Smit. Basson en Smit is dit eens dat die nuwe toernooi nie maklik gaan wees nie, maar hulle is baie positief oor die seisoen wat voorlê.

Volgens Basson is daar nog ruimte vir verbetering en hulle nooi enige belangstellende spelers om so gou moontlik aan te sluit.

Vir meer besonderhede oor die klub of die naweek se derby, kontak Jaco Basson by 084-605-3731.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button