Rekords spat by Sporthengel Wêreldspele
Hengelaars wat onlangs aan die Sporthengel Wêreldspele in Suid-Afrika deelgeneem het, was veral beïndruk met die wyse waarop die vêrgooi kode op ‘n terrein naby Pretoria aangebied is.
Suid Afrika het onlangs die vierde Sporthengel Wêreldspele met groot sukses aangebied.
Hierdie spele is die enigste groot geleentheid op die Internationale Hengelfederasie se kalender waartydens al die verskillende kodes in die hengelsport gelyktydig aan ‘n internasionale kampioenskapstoernooi deelneem.
Die spele was die grootste kompetisie wat in die geskiedenis van georganiseerde hengel in Suid Afrikaanse aangebied is.
Meer as 1500 hengelaars uit 51 lande het na Suid-Afrika opgeruk om aan die spele deel te neem.
In totaal het hengelaars by die spele, wat gelyktydig op verskeie plekke in Suid-Afrika aangebied is, in 13 verskillende kodes van die hengelsport met mekaar gekompeteer. Hierdie kodes sluit in diepsee-, swartbaar-, karp-, vlieg-, ligtegery-, boot-, spesie-, en rots en strand-hengel, sowel as ‘n vêrgooi kompetisie, wat in Pretoria aangebied is.
Ander kodes is by damme in dorpe soos Dullstroom, Groblersdal, Bloemhof en Middelburg (Loskop) aangebied, terwyl deelnemers aan kodes wat in die see plaasgevind het na Jeffrysbaai, Richardsbaai en Langebaan moes reis.
Die aanbieding van die spele was uiteraard ‘n reuse logistiese uitdaging vir die organiseerders, maar dis met groot sukses en in ‘n gees van ware Suid Afrikaanse gasvryheid gedoen.
Deelnemers aan die vêrgooi kampioenskap was die gaste van die Suid Afrikaanse Vêrgooi Federasie op ‘n terrein oos van Pretoria. Elf spanne uit nege verskillende lande het hieraan deelgeneem.

Foto: Verskaf
Hierdie vergooi kampioenskap is oor ‘n tydperk van vier dae afgehandel. Deelnemers wat tipiese warm en droë weersomstandighede verwag het, is verras toe die grootste deel van die kampioenskap in nat en reënerige omstandighede afgehandel moes word.
Ten spyte van hierdie gure weer en die uitdagings wat daarmee gepaard gegaan het, is die kampioenskap agterna deur die Internasionale Hengelfederasie bekroon as die beste wat nog ooit in die bestaan van die kampioenskap aangebied is.
Vier wêreldrekords het boonop in die slag gebly by die kampioenskap. In die 125g afdeling het Filippo Montepagano van Italië ‘n nuwe rekord opgestel met sy poging van 280,69 meter. Montepagano het hierdie rekord opgevolg met nog ‘n nuwe wêreldrekord van 281,19 meter 150g afdeling.
In die 100g afdeling was dit Salvador Bustos van Argentinië se poging van 269.69meter wat as nuwe wêrldrekord sal staan.
Die vierde nuwe wêreldrekord is opgestel deur ‘n dame, Teresa Torres van Paraguay. Sy het die 125g sinker 176,55 meter ver gegooi.
Salvador Bustos van Argentinië is ook in die algehele afdeling gekroon as die wêreldkampioen vir die individuele afstande met ‘n total van 1092.11m in die vier gewigklasse waaraan hy deelgeneem het.
Italië se oorheersing in die spankompetisie is duidelik uit die feit dat hul A-span eerste en hul B-span tweede geëindig het. Uruguay was derde in die spankompetiese.
Vir enige verdere inligting oor vergooi as sportsoort kan die president van die Vêrgooi Vereeniging, Bossie van Rensburg, by 083-380-9876 geskakel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
