Local sportSport

Bulls klop Sharks op Loftus om voorloper op punteleer te word

Die Bulls is bo aan die punteleer op die Suid-Afrikaanse SuperRugby groep en tweede op die algehele punteleer ná hul puik oorwinning Saterdagaand teen die Sharks op Loftus Versfeld in Pretoria.

Die Bulls het Saterdagaand na die eerste plek op die Suid-Afrikaanse groepering in die SuperRugby reeks opgeskuif met ‘n oorwinning van 37-14 oor die Sharks op Loftus Versfeld.

Wat ookal by Loftus Versfeld gedoen word deesdae, dit wérk. Terwyl ondersteuners deur die week bekommerd was oor die verlies van sleutelspelers – veral onder die voorspelers – het die manne wat opgeroep is om vir hulle in te staan gewys dat dié span as ‘n groep iets reg doen vanjaar.

Die Sharks het na Loftus Versfeld opgeruk met drie ervare Springbok stutte en die omgekrapte haker, Akker van der Merwe, om die Bulls voorlangs op te dreun.

Daarbenewens was daar ook kommer oor die Bulls se balans onder hul slotte en losvoorspelers, veral wat betref hul lynstaanspel en hul spoed na die bal toe.

Teen rustyd was dit egter die Sharks wat diep selfondersoek moes doen, want hulle is nie net voorlangs goed opgedreun in die los nie, maar die Bulls het ook heelwat punte aangeteken vanaf strafskoppe wat deur die besoekers by die vaste skrums afgestaan is.

Die enisgte drie van die eerste helfte is deur Jesse Kriel gedruk, maar die merkwaardige aspek daarvan was dat dit gedoen is vanaf ‘n vaste skrum diep in die Bulls se eie helfte. Puik hantering en samespel tussen Jesse Kriel en Cornal Hendricks het Kriel in staat gestel om na ‘n beweging van byna 70 meter af te rond.

Teen rustyd was die manne van Durban onder groot druk met die Bulls se voorsprong op 19-0.

Wat Robert du Preez senior se woorde teen rustyd in die kleedkamper ookal was, dit het die Sharks met heelwat meer vuur en doelgerigtheid laat terugveg in die tweede helfte.

Binne twee minute na die afskop het die besoekers vanaf ‘n lynstaan gedryf en ná verskeie fases is die bal agtertoe gestuur, waar binnesenter Jeremy Ward kon insny en oorduik.

Die Bulls het egter weer gewys dat hulle deesdae weer die tipe span is wat hierdie soort terugslae onmiddelik kan uitkanselleer, toe Rosko Specman ná puik spel van Warrick Gelant kon deurdraf vir sy eerste drie.

Met hul nuwe aanslag, waarmee hulle die bal baie meer voorlangs gehou en om dryfbewegings staatgemaak het, het die Sharks egter weer momentum begin bou en Dan du Preez se drie het wéér gekom vanaf ‘n lynstan dryfbeweging.

Oorywerigheid en té veel ongedwonge foute was egter die Sharks se groot vyand in hul daaropvolgende poging om terug te kom in die wedstryd. Die Bulls se voorspelers het waarskynlik die gety finaal gedraai met die wyse waarop hulle nog ‘n lynstaan-dryfbeweging van die Sharks op die doellyn gestuit het met tien minute se spel oor.

Hierna het die Bulls die inisiatief oorgeneem en ‘n skepdoel deur Pollard het die wedstryd buite die Natallers se bereik geplaas.

Specman het in die doodsnikke met Jesse Kriel gekombineer vir sy tweede drie, wat die sout in die besoekers se wonde gevryf het.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 37  Drieë: Jesse Kriel, Rosco Specman (2). Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Handré Pollard (5), Skepdoel: Handré Pollard (1)

SHARKS: 14 Drieë: Jeremy Ward, Dan du Preez, Doelskoppe: Robert du Preez  (2).

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/2411036512281037/

Vir enige verdere inligting oor vergooi as sportsoort kan die president van die Vêrgooi Vereeniging, Bossie van Rensburg, by 083-380-9876 geskakel word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button