Naka Bulle skop Gouebeker veldtog af met bonuspunt oorwinning
ABE Midas Naka Bulle het hul eerste wedstryd in die nasionale Gouebeker klubtoernooi oortuigend gewen en hulle is vol selfvertroue om eerskomende naweek op dié vertoning voort te bou.

Die span an ABE Midas Naka Bulle het hul Gouebeker veldtog Saterdag op Loftus Versfeld met ‘n bonuspunt-oorwinning van 46-31 teen die Griekwas kampioene, Sishen, afgeskop.
Weens vrese vir probleme ten opigte van die oppervlakte van die A-veld by Loftus, wat vroeër verlede week 15 skolewedstrydeop een dag moes trotseer tydens die Afgri Prestige Skolerugby toernooi, is dié Gouebeker kragmeting – wat die amptelike voorwedstryd vir die Bulls se stryd teen die Sharks sou wees – na die B-veld geskuif.
Luga van Biljon en sy manne het die wedstryd in ‘n verwoede bui begin en binne die eerste ses minute twee keer gaan druk.
Dit wou na ‘n halfuur se spel en twee strafdoele deur heelagter Ruaan du Preez selfs lyk of ABE Midas Naka Bulle ‘n verspotmaklike oorwinning sou behaal, nadat hul derde drie die telling op 25-3 te staan laat kom het.
Die Noord-Kapenaars het egter na ‘n heel ander span gelyk toe hulle ná rustyd kans gehad het om tot verhaal te kom.
Twee vinnige drieë deur die besoekers het hulle binne trefafstand van ABE Midas Naka Bulle gebring, maar daarna het die manne van die Moot weer beheer oorgeneem.
‘n Verrassings-drie ná ‘n vinnige tikskoppie vanaf ‘n strafskop deur ABE Midas Naka Bulle se ster-vleuel, Kefentse Mahlo, het die skaal teruggeswaai én aan die tuisspan ‘n bonuspunt besorg.
Daarna het die reserwe voorryman, Lawrence Cleminson, en die sterk senter, Dirk Dippenaar, se drieë ABE Midas Naka Bulle se telling tot kort duskant die vyftigtal geneem en die koeël was basies deur die kerk.
Die Noord-Kapenaars wou egter nie besgee nie en hulle het in die laaste 10 minute verwoed begin aanval om self twee keer te druk, waardeur hulle verseker het dat hulle ten minste met een bonuspunt huis toe kon gaan.
ABE Midas Naka Bulle se hoofafrigter, Marinus van der Watt het na die wedstryd gesê dat hy tevrede voel met sy span se vertoning, hoewel hy wel effens omgekrap was dat hulle teen die einde waarskynlik te maklik die bonuspunt aan hul teenstanders beskikbaar gestel het.
Volgens Van der Watt het hulle egter hul doelwit bereik, Hy het verwys na die gras op Loftus Versfeld se B-veld wat besonder lank was, wat sy span ook gestrem het in hul aanvanklike wedstrydplan om die spel baie vinniger te maak en die Noordkapenaars sódoende rond te jaag in die bedompige hitte van Pretoria, waaraan hulle nie gewoond is nie.
Van der Watt glo dat hulle met ‘n paar verstellings aan hul wedstrydplan volgende week gereed sal wees om die Griffons se kampioen, Welkom, op hul tuisveld in die Moot aan te vat.
Vir enige verdere inligting oor vergooi as sportsoort kan die president van die Vêrgooi Vereeniging, Bossie van Rensburg, by 083-380-9876 geskakel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:




