Naka Bulle se agterlyn afrigter glo 2019 is sy deurbraakjaar
ABE Midas Naka Bulle se gewilde agterlyn breier glo dat hy as afrigter vanjaar ‘n deurbraak kan maak as dié span goed presteer in die Gouebeker toernooi.

In vanjaar se nasionale Gouebeker klubrugbytoernooi is dit nie net die deelnemende spelers wat op die veld draf met die wete dat dié toernooi bepalend vir hul rugbyloopbane kan wees nie.
Die toernooi krioel ook van top afrigters wat wag op ‘n geleentheid om hul vermoë te wys en moontlik selfs later die professionele leer te klim weens hul uitstaande insette en die prestasie van hul spanne.
Dis bekend dat ABE Midas Naka Bulle spog met van die mees onderskatte afrigters in Suid-Afrikanse klubrugby. Manne soos Marinus van der Watt en Naas Rossouw se vermoëns is welbekend, maar dis die span se agterlyn afrigter vir wie hierdie toernooi ‘n reuse deurbraak kan wees.
Morné Human is in beheer van ‘n agterlyn wat beskik oor talentvolle spelers soos die gewese SA Skole losskakel Ruben Beytel, die ervare Bloubul sewes ster Anton Beswic, die gewese Blitsbok Dirk Dippenaar en die gewese Bulls speler, Kefentse Mahlo.
Human het dus vanjaar die geleentheid om sy reeds bewese potensiaal te vervul op senior klubvlak, nadat hy op elke ander vlak waar hy die afgelope agt jaar afgerig het reeds silwerware huis toe kon bring.
Hy word reeds baie hoog aangeslaan deur verskeie kenners. Die Blou Bulle se president, Willem Strauss noem hom “een van die mees belowendste jong afrigters in ons strukture”, terwyl een van die Blou Bulle maatskappy se direkteure en voorsitter van ABE Midas Naka Bulle, Ian Herbst, selfs glo dat hy bestem is om in die toekoms by ‘n SuperRugby span betrokke te kan raak.
Dié gebore Kapenaar is in 2001 Pretoria toe gelok met ‘n professionele kontrak van die Blou Bulle. Nadat hy ‘n paar keer in die Ligblou trui op senter en vleuel uitgedraf het in die vyftienman kode, was dit uiteindelik as sewesrugby speler dat hy uitgeblink het en tussen 2002 en 2005 vier jaar lank ‘n staatmaker in die Blou Bulle se span was.
Intussen het hy byna tien jaar lank vir verskeie klubs in die Carltonbeker toernooi uitgedraf en die Blou Bulle ook op amateurvlak verteenwoordig.
Dit was egter sy ervaring as sewesrugby ster en die wyse waarop hy in dié verkorte weergaewe van die spel geleer het om spasie op die aanval te gebruik, wat hom laat besluit het om sy hand aan afrigting te waag.
In 2010 het hy die geleentheid gekry om by Hoërskool Montana se onder-14 span betrokke te raak. Hier het hy onmiddelik sukses begin behaal en die leer begin klim.
“Ek sal manne soos Montana se rugby organiseerder, Jan Cloete, en die skoolhoof, mnr. Sakkie Jacobs, ewig dankbaar bly vir dié groot kans wat hulle my destyds gegee het,” vertel Human.
In 2012 het hy die eerste silwerware gewen as skole-afrigter in die vyftienman kode. Later daardie jaar het sy sewesrugby span by die skool ook die @lantic 7’s skoletoernooi gewen en ná hul deelname aan die Kampioen van Kampioene toernooi is dié sewesrugby span van Montana onder die land se top tien skole spanne gekeur.
Intussen het Human opgeskuif na Montana se eerstespan, waar hy die agterlyn onder hande geneem het, terwyl hy ook by ABE Midas Naka Bulle as afrigter ingespan is.
Later het hy die agterlyn van ABE Midas Naka Bulle se o.21 kampioenspan afgerig en hierdie sukses het vir hom deure oopgemaak na die Limpopo Blou Bulle se o.20’s, waar hy die afgelope paar seisoene ook die agterlyn onder hande geneem het. Dié span het sedertdien reeds twee keer na die halfeindrondte in die Curriebeker B-afdeling vir o.20’s deurgedring.
Hoewel Human se vermoë om spelers se aanvalsvaardighede te slyp baie hoog aangeslaan word, geniet hy ook die verdedigingsaspek.
“Hoe meer ek leer, hoe meer besef ek egter hoe belangrik die aspek van menseverhoudings en mentorskap in die mondering van ‘n afrigter is,” het Human aan Rekord gesê.
Hy het in sy loopbaan as speler en afrigter reeds die voorreg gehad om te leer by meesters soos Heyneke Meyer, Nico Serfontein, Johan Kluyts, Naas Rossouw, Chris Breytenbach en Blikkies Groenewald. Maar vir Human staan Marinus van der Watt uit onder al hierdie manne.
“Marinus kan álles doen en sy oog vir detail, asook sy ontledingevermoë is werklik besonders,” het Human beklemtoon.
Dié eggenoot van Janine en pa van ‘n seun en twee dogters glo self dat hy nou gereed is om die leer te begin klim op pad na sy doelwit om òf by ‘n provinsiale span as agterlyn spesialis betrokke te raak òf om ‘n kans te kry as hoofafrigter van ‘n provinsiale sewesrugby span.
As ABE Midas Naka Bulle dit kan regkry om teen middel April vanjaar die Goubeker Pretoria toe te bring, is daar sekerlik nie ‘n rede waarom Human se loopbaan nie ook na die volgende vlak kan beweeg nie.
Vir enige verdere inligting oor vergooi as sportsoort kan die president van die Vêrgooi Vereeniging, Bossie van Rensburg, by 083-380-9876 geskakel word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:


