Local sportSport

Naka Bulle karnuffel Welkom in Gouebeker toernooi

ABE Midas Naka Bulle het elf drieë ingeryg tydens hul reuse oorwinning in die Gouebeker toernooi oor die Griffons se beste klubspan, Welkom.

Die ABE Midas Naka Bulle is een oorwinning weg van ‘n tuis kwarteindstryd in die nasionale Gouebeker klubkampioenskap, ná hul skittervertoning teen Welkom die afgelope naweek.

Luga van Biljon en sy makkers het die Griffons se kampioenspan ‘n reuse pakslae van 70-12 gegee en daarmee gewys dat die span wat vanjaar die gesogte Gouebeker omhoog wil hou, eers by húlle verby sal moet kom.

Die manne van die Moot het elf keer agter hul teenstanders se doellyn gaan kuier tydens dié slagting op hul tuisveld in Wonderboom-Suid. Welkom kon, ten spyte van die feit dat hulle nooit gaan lê het nie, slegs twee keer gaan druk.

Met hierdie oorwinning het ABE Midas Naka Bulle gewys hoe belangrik hul goeie diepte by die klub is. ‘n Paar van die span se staatmakers, wat verlede week teen Sishen nog onder die uitblinkers getel het, was nie teen Welkom beskikbaar nie.  Tog het hul plaasvervangers Saterdag almal puik vertoon en dié diepte kan later in die toernooi beslis vir ABE Midas Naka Bulle ‘n groot bate wees.

Die grondslag van ABE Midas Naka Bulle se oorwinning is gelê by hul oorheersing voorlangs, waar hul puik pak voorspelers veral in die vaste fasette hul teenstanders harde bene laat kou het. Hul krag in die vaste skrums het later in die wedstryd self gelei tot ‘n strafdrie, wat die besoekers se vuur  waarskynlik finaal geblus het.

Met hierdie oorheersing het die tuisspan gesorg dat die manne uit die Noord-Vrystaat se agterlyn permanent onder druk was en nooit behoorlike beweegruimte gegun is nie.

Daarenteen het die 19-jarige Ruben Beytell op losskakel agter ‘n wenpak die wedstryd netjies beheer en met die veelsydige Jean Grobler langs Beytell op binnesenter het die tuisspan hul spel agterlangs goed afgewissel.

ABE Midas Naka Bulle se groot uitblinker was egter Altus Momsen op buitesenter. Behalwe vir die feit dat hy self drie skitter drieë gaan druk het, het hy boonop ‘n aandeel in verskeie van die span se ander drieë gehad. Daarby het hy met genadelose verdediging gesorg dat die Noord-Vrystaters se agterlyn geen planne kon uitvoer met die karige balbesit wat hulle wel gehad het nie.

Dié 25-jarige oud Matie, wat direk na skool eers in Australië rugby gaan speel het en deel was van oefengroepe by die Brumbies en die Western Force, is ‘n speler was gerus deur die Bulls se breintrust dopgehou kan word. Met Jesse Kriel wat ná die Wêreldbeker-toernooi waarskynlik oorsee gaan uitwyk en Franco Naudé wat gelukkig lyk by die Leeus, kan dié groot sterk senter ‘n baie goeie belegging wees.

Voorlangs het Ig Prinsloo weer op vaskop met sy krag gewys dat hy ‘n reuse bate vir die span is, terwyl Van Biljon oudergewoonte deur voorbeeld gelei het.

Die naam van Gustav de Jager moet egter ook genoem word. Dié jong haker is self nog net 19 jaar oud, maar as ABE Midas Naka Bulle die uitspeelrondtes haal en hul wedstryde word op TV uitgesaai, is die kans goed dat rugby-agente oor dié woelige speler sal begin uitvra. Hy is beslis goed genoeg om eerder vroeër as later ‘n kans op Curriebeker- of selfs SuperRugby vlak te kry.

ABE Midas Naka Bulle speel eerskomende Saterdag in ‘n wegwedstryde teen Bloemfontein Polisie. ‘n Gewone oorwinning – sonder dat bonuspunte op die spel is – sal goed genoeg wees om hulle bo aan die punteleer in Groep C te laat eindig, wat aan hulle ‘n tuis kwarteindstryd op 30 Maart sal verseker.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button