Silver Valke wil seisoen aan oorlede strydros opdra
Die Silver Valke Rugbyklub het besluit om hul 2019 seisoen op te dra aan een van die strydrosse van dié klub, wat onlangs oorlede is.
Bestuurslede, spelers en ondersteuners van die Silver Valke Rugbyklub is onlangs in rou gedompel met die afsterwe van een van die stigterslede van die klub, Neels van Deventer.
Ná hierdie verlies is daar besluit dat die klub vanjaar hul 2019-seisoen in eervolle nagedagtenis aan Van Deventer gaan opdra.
As onder-voorsitter van die Silver Valke het Van Deventer sy stempel deeglik op alle fasette van die klub se organisasie en bestuur afgedruk. Hy het ‘n groot rol gespeel in die groei en sukses van Silver Valke, maar hy was ook getrou in tye wat dit moeilik met dié klub gegaan het.
Na ‘n uitdagende 2018 seisoen is die klub hard aan die werk om nuwe spelers te werf vir die 2019 seisoen, terwyl die proses om vaardige afrigters by al die spanne te vestig ook ver gevorder het.
Die Silver Valke kort tans nog spelers en afrigters en nooi daarom alle belangstellendes wat ‘n tuiste soek om rugby te speel om by hulle aan te sluit.
Oefeninge vind tans plaas op Maandae en Woensdae om 18:30 by die klub. Die adres is Roestoffstraat 220 in Silverton.
Volgens Silver Valke se voorsitter, Henry van Wyk, bly dié klub steeds ‘n trots op hul reputasie en geskiedenis, ten spyte van ‘n paar moeilike seisoene wat verby is.
“Ons is vasbeslote om die klub se status te herstel en daarom nooi ons spelers wat hou van ‘n uitdaging om by ons aan te sluit,” het Van Wyk gesê.
Vir meer inligting kan Van Wyk gekontak word by 083-466-9016 of per epos by henry4rugby@yahoo.com . Mossie Pretorius kan ook gekontak word by 084-846-8768
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

