Bulls kry groot pakslae by Chiefs op Loftus
Die Chiefs van Nieu-Seeland, wat tot voor Saterdagmiddag gesukkel het in vanjaar se SuperRugby toernooi, het die Bulls op Loftus Versfeld verneder met ‘n pakslae waartydens hulle sewe drieë gedruk het.
Net toe dit wou lyk of die Bulls besliste kandidate vir die uitspeelfase van vanjaar se SuperRugby toernooi is, het die Chiefs van Nieu-Seeland hulle behoorlik teruggebring aarde toe met ‘n reuse pakslae van 56-20.
Die Chiefs se bestuurspan het duidelik hul huiswerk gedoen voor hulle in Pretoria aangeland het. Hulle het waarskynlik besef dat die Bulls slegs geklop kan word as hulle voorlangs in toom gehou word.
Dit is presies wat hulle gedoen het. Trouens, hulle het dit só goed gedoen, dat die Bulls vir 40 minute in die eerste helfte én die grootste deel van die tweede skof verlore gelyk het, want hulle kon eenvoudig nie hul hande op die bal kry nie.
Terwyl die besoekers solied was in die vaste fasette, het hulle veral vanaf die afbreekpunte blitsvinnig aangeval en met puik handspoed en ewe goeie hardlooplyne, het hulle die Bulls se verdediging gereeld oorhoops gehad.
Veral die wyse waarop die glibberige Damien McKenzie op die aanval gebruik is, het die Bulls laat skarrel. Dié man beskik oor die gawe om ruimte te skep vir sy spanmaats met die lyne wat hy hardloop en met sy vermoë om verdedigers in die lug te laat gryp met sy voetwerk.
Pote Human en sy bestuur sou teen rustyd egter veral bekommerd gewees het toe die Chiefs in die doodsnikke van die eerste helfte ‘n voorspeler-drie deur Broedie Retallick gaan druk, nadat hulle vanaf ‘n vaste skrum die bal deur verskeie fases via genadelose dryfspel geneem het.
Die Bulls is tot op daardie stadium voorlangs uitoorlê en selfs geboelie, en hulle het skynbaar nie ‘n teenvoeter vir hul eie medisyne gehad nie. Daarom moes hulle gaan water drink met die telling op 24-6 in die guns van die Chiefs.
‘n Rampspoedige begin vir die Bulls in die tweede helfte het die byna 13000 ondersteuners wat by die wedstryd opgedaag het se moed in hul soene laat sak. Die tuisspan het onder druk die bal van die afskop af verloor en die Nieu-Seelanders het voortgebou op hul aanslag van die eerste helfte. Met puik hantering teen ‘n hoë tempo het hulle eenvoudig tree vir tree doellyn toe gevorder totdat Retallick kon oorval vir sy tweede drie.
Hierna het die Bulls effens teruggeveg en vir ‘n tyd lank meer besit gehad, maar dit het hulle ‘n halfuur se geswoeg gekos om uiteindelik die doellyn te haal toe Jesse Kriel ‘n kortskoppie van Pollard opgevolg het om te druk. Intussen het Alex Nankivell dieselfde gedoen ná ‘n skoppie van die briljante McCenzie, om die telbord aan die rol te hou vir die besoekers.
In die laaste kwartier het die Bulls se verdediging behoorlik uitmekaar getorring en die Chiefs is nog twee keer verspotmalik deur vir drieë. Daarenteen het Burger Odendaal ‘n troosdrie vir die Bulls gaan druk.
Pote Human se span het behoorlik aarde toe gekom toe hulle deur ’n span geklop is wat hulle met hul eie soort rugby aangevat en oorheers het. Die res van hul seisoen sal afhang van hoe hulle hierdie les gaan verwerk en voorberei om in die toekoms ‘n teenvoeter vir ‘n soortgelyke aanslag te hê.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 20 Drieë: Jesse Kriel, Burger Odenaal. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Handré Pollard (2)
CHIEFS: 56 Drieë: Solomon Alaimalo (2), Alex Nankivell (2), Brodie Retallick (2), Te Toiroa Tahuriorangi. Doelskoppe: Damien McKenzie (6). Strafdoele: Damien McKenzie (3)
Skeidsregter: AJ Jacobs
https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/314915052532128/
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram.





