Naka Bulle kwalifiseer vir tuis kwarteindstryd in Gouebeker toernooi
ABE Midas Naka Bulle het maklik vir ‘n tuis kwarteindstryd gekwalifiseer in die nasionale Gouebeker klubtoernooi en ondersteuners van klubrugby in Pretoria kan dié klub eerskomende Saterdag op hul tuisveld ondersteun.

Die Blou Bulle se verteenwoordiger in vanjaar se nasionale Gouebeker klubkampioenskap, ABE Midas Naka Bulle, sal eerskomende Saterdag op hul tuisveld in die Moot teen die Grens se kampioenspan, Swallows, te staan kom in die kwarteindrondte van dié toernooi.
Dit volg nadat ABE Midas Naka Bulle hul ligaverpligtinge in groep C van die toernooi onoorwonne afgesluit het. Marinus van der Watt se manne het die Bloemfontein Bobbies Saterdag met 64-0 op hul tuisveld in Bloemfontein afgestof.
Met hierdie oorwinning het ABE Midas Naka Bulle gerieflik bo aan die punteleer van hul groep geëindig, nadat hulle al drie hul ligawedstryde met bonuspunte gewen het.
Die manne van die Moot het stadig uit die blokke gekom en teen rustyd was die telling slegs 12-0 in hulle guns.
In die tweede skof het hulle egter behoorlik vlamgevat en toe kon die tuisspan eenvoudig nie langer al die gate toestop nie. ABE Midas Naka Bulle het nog agt keer agter die doellyn gaan kuier om die reuse oorwinning te bekragtig.
Altus Momsen, groot sterk senter van Naka, het vir die tweede wedstryd na mekaar ‘n driekuns behaal. Regtervleuel Marcel Human het ook so gemaak met drie van sy eie drieë, terwyl Ruan du Preez twee keer gedruk het. Die ander twee drieë is gedruk deur Ewan Coetzee en Sango Xamtashe. Du Preez het sewe van die drieë verdoel.
Eerskomende Saterdag speel ABE Midas Naka Bulle dus op hul tuisveld in Wonderboom-Suid en dié span verdien beslis die ondersteuning van alle klubrugby liefhebbers in Pretoria. Terwyl die Bulls in Durban teen die Sharks speel, is dit die ideale geleentheid vir Pretorianers om plaaslike klubrugby te ondersteun.
Die hoof wedstryd begin om 16:00.
Die atmosfeer by ABE Midas Naka Bulle se tuiswedstryde is deesdae feestelik en by die kosstalletjies en kroeg word daar genoeg te ete en te drinke aangebied vir besoekers.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

