Centurion rugbyklub skop seisoen af met puik vertoning
Centurion rugbyklub is opgewonde oor die klubseisoen wat voorlê en na goeie vertonings in hul eerste vriendskaplike wedstryde speel die klub eerskomende naweek weer tuis teen Alberton.

Terwyl ‘n baie taai klubrugby seisoen voorlê, kan Centurion Rugbyklub tevrede voel met hul vertonings in hul eerste vriendskaplike wedstryde van die jaar, wat Saterdag op hul tuisveld teen die Wanderers rugbyklub van Johannesburg afgehandel is.
Hoewel dit duidelik was dat die klub se spanne nog wedstrydfiksheid kortkom, is die bestuur tevrede en opgewonde oor dit wat voorlê.
Centurion se eerstespan het Wanderers in ‘n taai stryd met 31-28 geklop. Die tweedes het effens makliker gewen (29-7), maar die derdes het die onderspit gedelf (17-20) in ‘n ewe taai stryd.
Dié manne uit Pretoria se suide het vanjaar, met die lang en taai seisoen wat voorlê, meer tyd spandeer aan ‘n behoorlike voorseisoen program om hul spelers ordentlik fiks en reg te kry. Ná ‘n paar vriendskaplike wedstryde wat voorlê begin die nuwe Volcano Super Klubreeks op 27 April, wanneer al agt die spanne in die eerste rondte wedstryde op Loftus Versfeld in aksie sal wees.
Die omgekrapte span van die Northam Rhinos, wat tans aan die nasionale Gouebeker klubkampioenskap deelneem, sal daardie dag Centurion se eerste teenstander in die nuwe toernooi wees.
Volgens Riaan Brand, hoofafrigter van Centurion, het dié klub nie veel hoëprofiel aanwinste bygekry nie, maar hulle het ‘n stewige groep spelers bymekaar en hy sien uit na die aksie wat voorlê. Tans oefen genoeg seniors by die klub om selfs ‘n vierde span te kan volmaak, wat natuurlik ook bydra tot beter diepte vir die lang seisoen wat voorlê.
Brand het aan Rekord gesê dat hulle die liga sal tegemoet gaan met ‘n eerstespan wat ‘n goeie balans tussen ervare manne en ‘n hele paar bloedjong nuwelinge insluit.
Daar is ook opgewondenheid oor die terugkeer van die uiters talentvolle losskakel, Stanley Twiname, wat terug is by die klub na ‘n seisoen waarin hy nie rugby gespeel het nie. Dié begaafde speler met sy kanonpoot kan ‘n wedstrydwenner wees in enige geselskap as hy op vorm is.
Centurion se bestuur is ook opgewonde oor hul samewerking met die Centurion Akademie, veral met die oog op die Volcano Superliga se onder-20 afdeling wat volgende week op 4 April afskop. Die klub het net een span vir die top liga ingeskryf, maar daar word geglo dat dié span goeie rekenskap van homself gaan gee in die nuwe liga.
Die nuwe bestuur van Centurion Rugbyklub het intussen ook reeds hul stempel op die klub se berywighede begin afdruk. Die klub se restaurant bied op weekdae baie bekostigbare spesiale aanbiedings vir enige lid van die publiek. Die kombuis open reeds om 09:00 vir besoekers wat ‘n ontbyt wil kom geniet, terwyl spesiale aanbiedings daagliks wissel.
Die goed toegeruste kroeg met ‘n grootskerm TV fasiliteit is ook oop vir die publiek, terwyl innoverende dienste soos ‘n karwas eenheid beplan word.
Eerskomende Saterdag (30 Maart) speel Centurion in hul tweede vriendskaplike wedstryde weer op hul tuisveld teen Alberton. Die Aksie begin reeds om 13:15. Vier senior en twee o.20 spanne sal in aksie wees. Die eerstespan se wedstryd sal om 17:00 afskop.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:



