Local sportSport

Naka Bulle verloor in omstrede Gouebeker kwarteindstryd

Ondersteuners van ABE Midas Naka Bulle se woede oor die skeidsregter se hantering van hul Gouebeker kwarteindstryd teen Swallows van Oos-Londen het baie gou omgesit in agterdog oor ‘n moontlike manipulering van die uitslag.

ABE Naka Bulle se veldtog in vanjaar se Gouebeker klubkampioenskap het Saterdag op hul tuisveld tot ‘n einde gekom toe hulle met 10-13 teen die Grens kampioenspan, Swallows, verloor het.

Van die eerste afskop af was dit duidelik dat die Oos-Kapenaars op ‘n missie na Pretoria gereis het en hulle het met verwoede inklimspel vorendag gekom.

Die tuisspan sou egter nie sommer só hul drome van Gouebeker sukses laat glip nie en hulle was duidelik gereed vir die aanslag. Luga van Biljon en sy manne het die vaste fasette oorheers, maar kon weens redes buite hulle beheer nooit werklik momentum opbou nie.

Dis onmoontlik om oor die wedstryd verslag te doen sonder om die wyse waarop dit hanteer is deur die skeidsregter deel van die bespreking te maak. Sy omstrede hantering van sake het verder gestrek as dít wat gewoonlik as ‘menslike foute’ afgemaak word.

Hierdie man van Bloemfontein (Cheetahs) se vreemde beslissings het ‘n wesenlike uitwerking op die uitslag van die wedstryd gehad. Dit het in ‘n groot mate selfs die verloop van sake bepaal. Sy hantering van die afbreekpunte was skokkend, terwyl Swallows by verskeie geleenthede weggekom het met onwettige spel by die lynstane, soos bewys kan word met die video-opname van die wedstryd.

Van Biljon was baie duidelik gefrustreerd met die skeidsregter se optrede en hulle was gereeld in debat op die veld. Dié klipharde flank het na die wedstryd aan Rekord gesê dit was veral die hantering van die afbreekpunte wat hulle gefrustreer het en baie momentum gekos het.

Marinus van der Watt, hoofafrigter van ABE Midas Naka Bulle, was ná die wedstryd woedend. Volgens hom kan hy nie anders as om dringende vrae te vra oor die hantering van die wedstryd nie.

Behalwe vir die frustrasie wat die skeidsregter se hantering by lede van die tuisspan veroorsaak het, was daar ook ‘n verskeie twyfelagtige beslissings wat ‘n direkte invloed op die telbord gehad het.

Voorbeelde hiervan is ‘n drie in die eerste helfte deur ABE Naka Bulle se regtervleuel, Ruaan du Preez. Heelagter Kefentse Mahlo het met ‘n slim hardloop-lyn die ruimte vir Du Preez geskep en dié blitsige vleuel het sy teenstanders geklop om te gaan druk. Die skeidsregter het egter beslis dat Mahlo se aangee vorentoe was.

Dié gewese Blou Bul het na die wedstryd steeds sy kop in ongeloof geskud oor die beslissing en aan Rekord gesê hy het geen twyfel dat sy aangee binne die reëls was nie.

Tydens nog ‘n voorval in die tweede helfte het ABE Naka Bulle se binnesenter onder die pale gaan druk, maar dié drie is gekanselleer toe daar besluit is dat agtsteman Dylan van der Walt glo ‘n teenstander met die knie geslaan het tydens die voorafgaande losskrum. Die video-opname bewys egter dat dié beslissing ook verkeerd was.

Die toekenning van Swallows se tweede drie was nóg ‘n skok-beslissing. Ná ‘n dryfbeweging van die besoekers se voorspelers naby hul doellyn, het hul losskakel die bal ontvang en dwars na die linkerkantste hoek geskop. Swallows se linkervleuel, Leza Gcilitshane, het die bal bemeester, maar in sy poging om in die hoek oor te duik, is hy baie hard gelak deur Mahlo. Die bal het uit sy hande gespat, maar die skeidsregter – wat weens die betrokke skop baie ver van dié aksie was – het besluit om ‘n drie toe te ken.

Naka Bulle ondersteuners wat die wedstryd van agter die suidelike doellyn dopgehou het, was woedend oor dié beslissing. Volgens hulle het Gcilitshane ongetwyfeld die bal vorentoe aangeslaan toe hy deur Mahlo se duikslag getref is.

In die laaste vyf minute van die stryd het ABE Midas Naka Bulle kamp opgeslaan in die besoekers se kwartgebied. Hulle het tydens hierdie fase drie vaste skrums oorheers en hul teenstanders onder druk laat swig, waarna die skrum geswaai het. Onder enige ander omstandighede sou ‘n gesoute skeidsregter die Oos-Kapenaars op daardie stadium gestraf het, maar daar is telkens beveel dat die skrum weer moet plaasvind.

Tydens hierdie deurslaggewende periode is ‘n blatante afklap deur ‘n Swallows speler van ‘n aangee van die tuisspan oorgesien, terwyl Van Biljon op een stadium deur twee verdedigers 180 grade in die lug omgeswaai is. Dié duikslag was só gevaarlik dat sy eie spanmaats hom moes vashou om te verhoed dat hy direk op sy kop terugkom grond toe. Dié voorval (vyf meter van die pale en reg voor die skeidsregter) was volgens sy oordeel ook nie strafbaar nie en hy het ‘n skrum aan die besoekers toegeken vir ‘n aanslaan deur die tuisspan.

Daar sal ter verdediging van die skeidsregter waarskynlik genoem word dat ABE Naka Bulle nege punte verbeur het met mislukte strafskoppe na die pale. Dié drie strafskoppe was egter almal redelik ver en teen skuins hoeke. Daarteen is in die laaste vyf minute versuim om die besoekers reg voor die pale te straf, terwyl hulle aan verskeie blatante oortredings skuldig was.

Twaalf van die spelers in Swallows se beginspan was verlede jaar deel van Grens se Curriebekerspan. Die Grens Rugby-unie is in Oktober 2018 bankrot verklaar, waarna SA Rugby dié unie se lidmaatskap van die nasionale liggaam opgeskort het en self beheer oor die sake van Grens geneem het.

In SA Rugby se verklaring op 19 Oktober verlede jaar is uitdruklik genoem dat die skole- en klubstrukture onder Grens se jurisdiksie gered moet word deur dié ingryping.

Teen hierdie agtergrond is ondersteuners en sekere bestuurslede van ABE Midas Naka Bulle se vermoedens dat hulle die slagoffers van ‘n politieke marionettespel kan wees, dalk nie ongegrond nie.

“As dié skeidsregter nie direk opdrag gehad het om hierdie wedstryd se uitslag te swaai nie, het hy beslis opgetree onder intimidasie en druk van faktore wat niks met rugby te doen het nie,” het ‘n ervare klubrugby administrateur na die kragmeting aan Rekord gesê.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button