Gewilde Kolonnade wedloop bars uit sy nate
Duisende padatlete het die afgelope Saterdag weer die strate van Montana Park en omgewing ingevaar tydens die Overkruin Kolonnade 3-in-1 padwedloop.

Organiseerders van die jaarlikse Kolonnade 3-in-1 padwedloop is die afgelope naweek verras deur buitengewone belangstelling van padatlete in die nuwe formaat van hul wedloop.
Dit was Saterdagogend reeds voor sonsopkoms duidelik dat dié wedloop vanjaar meer atlete as ooit tevore sou lok. Die suidelike parkeerarea van die Kolonnade winkelsentrum was teen 05:30 reeds stampvol. Sommige atlete en hul ondersteuners het oral rondom hul Gazebo’s rondgestaan, terwyl ander litte losgemaak het vir die komende wedloop.
Overkruin Atletiekklub, aanbieders van hierdie gewilde wedloop, het vanjaar die roete effens verander en twee van die wedlope verleng. Die gebruiklike halfmarathon (21.1km) is verleng na ‘n 32km wedloop, terwyl die 10km wedloop vanjaar verleng is om nou die atlete se vermoë oor 15km te toets.
Hierdie aanpassing is deur die klub gemaak aangesien daar ‘n behoefte is onder padatlete om hierdie tyd van die jaar aan langer amptelike liga-wedlope deel te neem, veral met die komende Twee Oseane- en Comrades ultra marathons wat binnekort plaasvind.
‘n Pretdraf van 5km was egter steeds deel van die program vir almal wat verkies het om oor ‘n korter afstand hul oefening vir die naweek in te kry.
Toe dit uiteindelik tyd was vir die wegspring van die twee langer wedlope, het duisende atlete reeds saamgedrom op die Kolonnade se parkeergebied, vanwaar die aksie sou begin.
Hoewel die roete uiteraard moes verander, het die grootste deel van die wedloop atlete steeds geneem deur die boomryke strate van Montana Park.
Thomas Ndlovu van die Nasionale Weermag atletiekklub (1:48:44) en Annerie Kruger (2:24:58) was die onderskeie wenners in die mans- en vroue-afdelings van die 32km wedloop.
Die goed-georganiseerde wedloop is vanjaar weer vir atlete opgekikker deur die unieke waterpunte op die roete. Sportspanne van die Hoërskool Overkruin beman jaarliks dié waterpunte en hulle kompeteer teen mekaar om die Rekord-trofee vir die beste waterpunt. Spanne in hierdie kompetisie word beoordeel volgens kriteria soos effektiwiteit, oorspronklikheid, gees en ook die wyse waarop hulle die area om hul waterpunt opruim na die wedloop.
Vanjaar het Hoërskool Overkruin se landloopspan die trofee verower.
Gereken aan die groei van die Overkruin Kolonnade 3-in-1 wedloop, tel dié padwedloop beslis deesdae onder een van die gewildstes onder die vaandel van Atletiek Gauteng-Noord.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:














