Top amateur boksers in aksie in Tuine
Die HTS Tuine Boksklub was die afgelope naweek die gasheer van ‘n interprovinsiale amateurtoernooi, terwyl daar eerskomende naweek wéér boks-aksie by dié klub sal wees.

HTS Tuine Boksklub het die afgelope naweek ‘n baie suksesvolle amateur bokstoernooi aangebied.
By dié toernooi, wat bekend gestaan het as ‘n Gekombineerde Interprovinsiale Ontwikkelingstoernooi, was boksers van Gauteng se akademiespan in aksie teen teenstanders van die KwaZulu-Natal Boxing Academy.
Terselfdertyd het die organiseerders ook geleentheid geskep op die program vir lede van die Suid-Afrikaane Nasionale Amateurboks Organisasie (SANABO) se verteenwoordigende span om deel te neem.
Die dag het reeds vroegoggend begin toe boksers van oral oor Gauteng saam met die besoekers uit KwaZulu-Natal (KZN) ingeweeg het vir die dag se aksie. Kort daarna het die vuiste begin klap en dié aksie het aangehou tot Saterdag laataand.
Die besoekers uit KZN het hulself bewys as baie sterk teenstanders en toeskouers – wat vroeg reeds die saal volgepak het – is getrakteer op ‘n hele paar puik gevegte. Onder hierdie toeskouers en ondersteuners was verskeie bekendes in die boksgemeenskap, soos die gewilde professionele bokser, Johnny Muller.
Die HTS Tuine boksklub se lede het hul klub se naam hoog gehou by die toernooi en verskeie van dié klub se boksers is na afloop van die aksie vir hoër louere opgeroep.
Jason Smit, wat verlede jaar ook die SANABO skolekampioen in sy gewigsafdeling was, is gekies vir die Gauteng Akademie-span.
Henrico Taljaard, Steven Moatshe, Sean Appel en Otto Janse van Vuuren is gekies on die Gauteng-Noord Akademie-span te verteenwoordig.
Die HTS Tuine boksklub se afriger, Helgard Smit, het ook erkenning gekry vir sy goeie werk toe hy gekies is as afrigter van die Gauteng-Noordspan.
Volgens ‘n woordvoerder van die klub is HTS Tuine boksklub se doel is om soveel moontlik kinders by sport betrokke te kry, terwyl die klub ook hierdie soort toernooie aanbied om hul boksers finansieel te ondersteun.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

