Local sportSport

Jaguares veg terug en behaal geskiedkundige oorwinning oor Bulls op Loftus

Die Jaguares van Argentinië het die Bulls Saterdagmiddag vir die eerste keer ooit in Pretoria geklop met ‘n terugvegpoging in die laaste tien minute van hul SuperRugby wedstryd op Loftus Versfeld.

Die Bulls het hul SuperRugby veldtog groot skade aangedoen toe hulle in die laaste tien minute teen die Jaguares op Loftus Versfeld konsentrasie verloor het en met 20-22 deur die manne uit Argentinië geklop is.

Hoewel die Jaguares waarskynlik gelukkig was om met ‘n vorentoe aangee op pad na  hul laaste drie in die 75ste minuut van die wedstryd  weg te kom, kan die Bulls net hulself blameer vir dié middelmatige vertoning wat tot die nederlaag gelei het.

Soos vooraf verwag is, was die rugby wat die twee spanne opgelewer het nie die opwindendste moontlike aksie nie.

Die eerste helfte het slegs een drie opgelewer, toe die Bulls ‘n blaps op die verdediging in die middelveld gemaak het en die besoekers se Puma-flank, Pablo Mantera, vanaf ‘n lynstaan regdeur kon breek om oor te duik.

Benewens dié drie het die eerste helfte basies bestaan uit ‘n armdruk geveg tussen die twee pakke voorspelers, terwyl die agterlyne mekaar nie veel beweegruimte wou gee nie.

Teen die einde van die eerste skof het die Bulls stadig maar seker begin momentum bou met hul dryfspel, maar hanteerfoute en puik verdediging van die Argentyne het hulle verhoed om die doellyn te haal.

Eli Snyman se besering kort voor rustyd was ook ‘n reuse slag vir die Bloues. Hoewel sy plaasvervanger, Tim Agaba, baie goed gespeel het, het die Bulls Snyman se teenwoordigheid veral in die lynstane gemis.

Danksy drie strafdoele van Manie Libbok kon die Bulls egter gaan water drink met ‘n klein voorsprong van 9-7.

Kort na die omdraaislag het dit gelyk of die Bulls hul momentum van die eerste helfte sou voortsit. Na ‘n paar goeie dryfbewegings deur die voorspelers het Burger Odendaal met goeie spel die geleentheid vir sy vleuel, Jade Stighling, geskep om die Bulls se eerste drie te druk.

Dié drie sou egter uiteindelik ook die tuisspan se enigste wees. Hulle het wel daarin geslaag om ‘n paar geleenthede te skep, maar die ou kwaal van swak vaardighede en verlore besit het hulle verhoed om weer die doellyn te haal.

Tien minute voor die eindfluitjie het dit wel gelyk of die Bulle op pad was na ‘n slodige oorwinning. Maar met die telling op 20-10 in die tuisspan se guns, het die besoekers se afrigter sy troefkaart gespeel en sy plaasvervanger losskakel, Domingo Miotti, opgestuur.

Dié man was vol rugby en hy het onmiddelik ‘n verskil gemaak. Toe die Bulls hul oë uitvee het Miotti twee keer binne enkele minute gaan druk (hoewel die tweede met die vorentoe aangee gepaard gegaan het) en skielik moes hulle die kastaïngs uit die vuur probeer krap met ‘n agterstand van 20-22.

Twee geelkaarte teen onderskeidelik Tim Agaba en Conraad van Vuuren het beslis nie gehelp om die Bulls uit hul krisis te red nie. Die tyd het uitgeloop en die Argentyne kon feesvier, nadat hulle vir die eerste keer ooit ‘n SuperRugby wedstryd in Pretoria kon wen.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 20  Drieë: Jade Sighlilng. Strafdoele: Manie Libbok (5)

JAGUARES: 22 Drieë: Pablo Matera, Domingo Miotti (2). Doelskoppe: Stantiago González Iglesias (1), Domingo Miotti (1). Strafdoele: Stantiago González Iglesias (1).

Skeidsregter:  Brendon Pickerill (New Zealand)

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button