Tuks dring deur na Varsitybeker eindstryd met kliniese vertoning teen moedige Pukke
Tukkies moes Maandagaand op hul tuisveld in Pretoria hard veg om die Pukke van Potchefstoom te klop en sodoende deur te dring na die Varsitybeker eindstryd.
Tukkies het deurgedring na die Varsitybeker halfeindstryd toe hulle Pukke Maandagaand in die eerste halfeindstryd van die toernooi met 24-18 geklop het.
Dit was van die afskop af duidelik dat hierdie ‘n halfeindstryd is en dat albei spanne opgedaag het met die doelwit om ten alle koste volgende week in die eindstryd te speel.
Die Pukke van Potchefstroom was vol rugby, maar hierdie Tuks-span is baie goed gebrei deur Nollis Marais en sy mede-afrigters. Hulle kon dus antwoord met kliniese uitspeelstryd-rugby en die Noordwesters het aanvanklik geen antwoord vir dié aanslag gehad nie.
Tuks het in die eerste helfte doelgerig aangeval as hulle die bal in die hande kon kry, terwyl hul verdediging rotsvas en sekuur was.
Geleenthede was nie baie in die hierdie wedstryd nie, maar vroeg in die eerste helfte het die tuisspan twee puik drieë gedruk vanuit basies dieselfe posisie. Eers is die bal vinnig lug gegee en die man-oor is bewerkstelling, sodat linkervleuel Ciaran Dayaram kon oorduik.
Tien minute later was dit weer Dayaram wat die afronding kon doen, toe Tuks se losskakel-generaal, Tinus de Beer, ‘n perfekte hoekskoppie in sy hande geplaas het.
Hierna het die Pukke verwoed teruggeveg, maar Tuks het sekuur bly verdedig en De Beer het boonop die telbord aan die rol gehou met twee strafdoele.
Aan die besoekers se kant was daar slegs kans vir een strafdoel, wat die rustydtelling op 18-3 in die guns van die tuisspan te staan laat kom het.
In die tweede helfte het die manne uit Noordwes met mening teruggeveg en op ‘n stadium selfs gedreig om ‘n groot verrassing te lewer.
Hulle het twee keer gaan druk, terwyl Tinus de Beer in dié helfte slegs ses punte vir Tuks kon byvoeg met twee strafdoele.
‘n Paar twyfelagtige beslissings van skeidsregter Griffon Colby het sake ook vir Tuks moeiliker gemaak.
Nollis Marais se manne het egter karakter gewys en vasgebyt om die oorwinning te beklink.
PUNTEMAKERS:
TUKS: 24 Drieë: Ciaran Dayaram (2). Doelskoppe: Tinus de Beer (1), Stafdoele: Tinus de Beer (4).
PUKKE: 18 Drieë: Lungelo Gosa, Wian Conradie. Doelskoppe: Schalk Hugo (1) Strafdoele: Schalk Hugo (2)
Skeidsregter: Griffen Colby
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:








