Plaaslike Judoklub behaal sukses oorsee
Judokas van een van Pretoria se top judo klubs het onlangs besondere sukses behaal tydens ‘n prestigeryke kampioenskap in Finland.
Judokas van die Pretoria Martial Arts (PMA) Judoklub het onlangs aan die Baltiese See Judokampioenskappe in Finland deelgeneem en vir verskeie puik prestasie gesorg.
Vier ervare judokas van die klub is na dié gesogte kampioenskap vergesel deur hul afrigter, Louis Nolte.
Die judokas is Aidan Cook (junior Protea), Devon Cook (junior Protea), Storm Steele (silwer medalje wenner by die 2018 Suid-Afrikaanse Ope Judokampioenskappe) en Cohan Swart (brons medaljewenner by die 2018 Suid-Afrikaanse Ope Judokampioenskappe).
PMA Judoklub het ‘n langtermyn ontwikkelingsprogram om talentvolle judokas stelselmatig blootstelling te gee aan internasionale kampioenskappe en hierdie was ‘n geleentheid om die program in werking te stel.
Hierdie program het al sedert 2007 meer as 1000 medaljes opgelewer op nasionale en internasionale vlak.
Sewe lande is deur 263 deelnemers verteenwoordig by die kampioenskap in Finland. Hieronder het lande soos Rusland, Swede, Israel, Finland, Estonië en Ysland getel en sommige van hul judokas het reeds medaljes verower by vorige wêreldkampioenskappe of by Olimpiese Speles.
PMA se resultate onder hierdie uitdagende omstandighede was uitstekend. Storm Steele het in die onder-90kg afdeling vir juniors jonger as 21 jaar ‘n brons medalje en in die senior mans afdeling ‘n vyfde posisie verower.
Devon Cook het ‘n silwer medalje in die onder 60kg afdeling vir senior mans behaal, terwyl Aidan Cook die kwarteindrondte in die junior afdeling (onder-21 jaar en onder 81kg) gehaal het.
Die klub sal Finland weer in Julie vanjaar besoek vir die bekende weeklange ‘Summer Judo Rocks’ oefenkamp.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
