Local sportSport

Bulls bons terug in SuperRugby toernooi met bonuspunt oorwinning oor Reds op Loftus

Die Bulls het teruggebons ná verlede week se skok nederlaag teen die Jaguares toe hulle die Reds van Brisbane Saterdag op Loftus Versfeld met ‘n bonuspunt oorwinning verslaan het.

Die Bulls het vyf drieë gedruk om die Reds Saterdag op Loftus Versfeld met 32-17 te klop en in die proses ook ‘n bonuspunt te verdien.

Die eerste helfte kan waarskynlik opgesom word as veertig minute van verspeelde kanse vir Handré Pollard en sy manne. Hoewel die tuisspan soms baie goed gespeel het, was dit weer die ou kwaal van swak afronding wat hulle van baie punte beroof het.

Telkemale het hulle met goeie interaksie tussen voor- en agterspelers tot in die sogenaamde “rooi gebied” naby die teenstanders se doellyn gevorder, maar op een of ander manier het hulle balbesit verloor.

Op een stadium was Jade Stighling self in die hoekie oor die doellyn, maar in die duikslag het hy die bal aangeslaan.

Die Reds het ook met moord weggekom in die vaste skrums. Aanvanklik wou dit lyk of die Bulls dié afdeling sou oorheers, maar toe die skrum telkens begin swaai, het skeidsregter Glen Jackson gemaak soos die meeste moderne skeidsregters en ‘n raai-raai speletjie gespeel. Dit was egter duidelik dat veral die Reds se loskopstut, JP Smith, ‘n groot aandeel in die draai van die skrum gehad het. Jackson het oor en weer strafskoppe uitgedeel en daarmee die vloei van die wedstryd effens versuur.

Die Bulls kon wel daarin slaag om in die eerste helfte twee keer die doellyn te haal, telkens deur middel van dryfbewegings deur die voorspelers. Dié drieë is gedruk deur Lizo Qqoboka en Marco van Staden. Sodoende het hulle teen rustyd 13-3 voorgeloop.

Pote Human het duidelik sy manne geroskam tydens rustyd, want die Bulls het sommer van die afskop af met mening aangeval en Pollard kon na minder as ‘n minuut oor die doellyn duik.

Dinge het heelwat beter begin gaan, maar die feit dat die tuisspan die bal meer lug gegee het, het hul risiko’s ook vergroot en die Reds het twee keer deurgeglip om self te gaan druk. Daar was ongelukkig ook weer ‘n paar verlore kane, wat de tellingvan hierdie wedstryd baie hoër kon gemaak het.

Nog twee opwindende drieë deur Hanro Liebenberg en Jade Stighling het egter verseker dat die Bulls hierdie een met ‘n broodnodige bonuspunt kon wen.

Die vertoning van ‘n paar manne wat lank uit was weens beserings sal beslis die Bulls se bestuurspan opgewonde maak. Veral RG Snyman, wat die veld vol gespeel het, het gewys dat hy ‘n wêreldklas rugbyspeler is.

Roelof Smit het ‘n groot verskil gemaak toe hy laat in die tweede helfte opgekom het, terwyl Corniel Els ook gewys het dat die Bulls dringend sy saak by die Pumas moet bepleit om hom vir die res van die seisoen op Loftus te kan hou.

PUNTEMAKERS:

BULLS: 32  Drieë: Lizo Gqoboka, Marco van Staden, Handré Pollard, Hanru Liebenberg, Jade Stighling. Doelskoppe: Handré Pollard (2).  Strafdoele: Handré Pollard (1)

REDS: 17 Drieë: Samu Kerevi (2) Doelskoppe: Bryce Hegarty (2). Strafdoele: Bryce Hegarty (1).

Skeidsregter:  Glen Jackson (New Zealand)

https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/285533492341232/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button