Pretoria bokslegende verloor sy stryd teen kanker
‘n Legende in Pretoria bokskringe en die pa van ‘n gewese swaargewig wêreld bokskampioen is die afgelope week oorlede na ‘n lang stryd teen kanker.

Een van Pretoria se groot legendes in amateur boksgeledere, Jan Botha, is vroeër hierdie week op die ouderdom van 80 oorlede.
Botha, die pa van die bekende gewese IBF en WBF swaargewig wêreldbokskampion, Francois Botha, het vir ‘n paar jaar ‘n moedige stryd teen kanker gestry.
Dié gewilde boksafrigter was vir baie jare betrokke by die Phoenix Boksklub in Pretoria, waar hy ook albei sy seuns, Francois en Willem, as amateurs afgerig het. Francois Botha het later bekendgestaan as die Wit Buffel en hy het selfs teen legends soos Mike Tyson, Lennox Lewis en Wladimir Klitschko geveg.
As boksafrigter het Jan Botha ook bekende amateurs soos die broers Lawrence en Patrick Stokes afgerig. Hulle was albei Suid-Afrikaanse amateur kampioene.
Ander bekende amateur boksers wat onder sy afrigting gepresteer het was die broers Danie en Frikkie Buys en Johan de Beer.
Onder Botha se leiding was Phoenix een van Pretoria se suksesvolste boksklubs. Dié klub was eers verbonde aan die ou Pretoria Brandweer, waana dit geskuif het na Salvokop en later na die Vlootbondsaal naby die Pretoria Nasionale Dieretuin.
Behalwe vir sy betrokkenheid by boks was Botha ook ‘n legendariese figuur in rugbykringe, waar hy klubrugby in die Goue Oues-liga gespeel het tot op die ouderdom van 50. As jongman het hy provinsiale rugby gespeel vir die ou Suidood-Transvaal (deesdae bekend as die Pumas).
Jan Botha was as bestuurder by die Perskor drukpers in Pretoria-Wes voor sy aftrede ook bekend en geliefd in mediakringe.
Hy word oorleef deur sy vrou, Bets, asook sy seun Francois en dogter Hannalie. Sy ander seun, Willem, is jare gelede ook aan kanker oorlede.
Botha word op Vrydag 26 April vanuit die NG Kerk Florauna in die noorde van Pretoria begrawe. Die gedenkdiens sal om 11:00 begin. Navrae kan aan Bets Botha gerig word by 083-392-8328.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

