Local sportSport

Volcanobeker toernooi skop af met klubrugby fees op Loftus

Die nuwe Volcano Klubreeks het Saterdag op Loftus Versfeld met ‘n rugbyfees van twaalf puik wedstryde afgeskop.

Die nuwe Volcanobeker interprovinsiale klubrugby toernooi het die afgelope naweek met ‘n knal afgeskop toe al die deelnemende spanne wat aan die top beker-afdeling deelneemm, hul eerste ligawedstryde op Loftus Versfeld gespeel het.

Die eerste-, tweede- en derdespanne van ABE Midas Naka Bulle (Blou Bulle), Centurion (Blou Bulle), East Rand United (Valke), Northam (Limpopo Blou Bulle), Quins-Bobbies (Blou Bulle), Rustenburg Impala (Luiperds), Springs (Valke) en Tukkies (Blou Bulle) was almal op dié rugbyfees in askie.

Dit was reeds tydens hierdie eerste rondte duidelik dat die teenstand in vanjaar se nuwe reeks baie strawwer gaan wees as verlede jaar. Veral die twee spanne van die Valke het bewys dat hulle vanjaar gereed is om hul stem dik te maak.

Vyf van die deelnemende klubs was ook vanjaar in aksie in die nasionale Gouebeker Klubkampioenskap, terwyl Tukkies ‘n Varsitybeker finalis was. Dit bewys dat hierdie nuwe Volcano Klubreeks waarskynlik Suid-Afrika se strafste toernooi op klubvlak is.

QBR wen spannende stryd teen ERU

* Die stryd tussen die eerstespanne het met ‘n skitterende en baie spannende stryd tussen Quins-Bobbies (QBR) en East-Rand Uniterd (ERU) afgeskop.

QBR se wendrie in die doodsnikke het aan hulle ‘n oorwinning van 43-37 besorg.

Hierdie was ‘n wedstryd van twee helftes, met die Pretorianers wat die eerste skof oorheers het, terwyl die manne van Reigerpark in die tweede helfte die inisiatief grootliks oorgeneem het.

Dit was vroeg reeds duidelik dat die manne van die Oos-Rand gaan swaarkry in die vaste fasette en QBR het dié voordeel aanvanklik goed gebruik om ‘n paar mooi drieë te druk.

Teen rustyd het die Pretorianers reeds vier keer gaan druk en die bonuspunt was in die sakke en dit wou lyk of hulle maklik sou wen.

Dit was egter ‘n heel ander ERU span wat vir die tweede helfte uitgedraf het. Hulle het die tempo opgejaag en hul hanteerfoute beperk. Dié verandering het onmiddellik vrugte afgewerp en na twee vinnige drieë binne agt minute was ERU terug in die wedstryd.

Hierna het die wedstryd wipplank gery, maar QBR se stewige regtervleuel, De-An Ackerman, het die laaste sê gehad en ná goeie samespel tussen QBR se voor en agterspelers kon hy onder die pale oorval vir die wendrie, terwyl die laaste sekondes van die wedstryd op die telbord aftik.

Centurion is terug op hul beste

* In die tweede wedstryd van die dag het die 2016 Carltonbeker kampioen, Centurion, gewys dat hulle terug is met ‘n knal.

Riaan Brand se manne het die res van die spanne in die reeks vroeg reeds gewaarsku met ‘n baie goeie vertoning waarin hulle een van die semi-finaliste in vanjaar se Gouebeker klubkampioenskap, Northam, met 64-38 pakgegee het.

Na twee moeilike seisoene en ‘n intensiewe heropbou proses lyk Centurion weer na ‘n span wat enige teenstander in hierdie nuwe toernooi kan klop.

Die samespel tussen Centurion se voor- en agterspelers was baie goed, terwyl hulle ook beïndruk het met die wyse waarop hulle byna elke beskikbare geleentheid gebruik het om punte aan te teken.

Beide Centurion en Northam sal egter hard moet werk aan hul verdediging. Die twee spanne was albei puik op die aanval, maar in ‘n wedstryd met sulke hoë tellings, waar 15 drieë gedruk word, wys ook dié leemte uit.

Die manne uit Pretoria se suide het nege keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl die Bosvelders self ses keer die doellyn kon haal.

 Springs verras teen Naka Bulle

Springs het Saterdag op Loftus Versfeld vriend en vyand verras met ‘n bonuspunt-oorwinning van 33-28 oor die Blou Bulle se beste oopklub, ABE Midas Naka Bulle.

Die Pretorianers het vroeg in die wedstryd na ‘n besliste gunsteling gelyk en ook gou voorgeloop.

‘n Groot terugslag het ABE Midas Naka Bulle getref toe hul regtervleuel, Christian Ambadiang, se wedstryd beëindig is nadat hy ‘n teenstander baie gevaarlik geduik het én boonop grond toe geboor het in die proses. Dié rooikaart het beteken dat Luga van Biljon en sy spanmaats vir 60 minute met 14 man moes klaarkom.

Springs het direk na die rooikaart toegeslaan en hul eerste drie gedruk, terwyl hulle ook met nuwe ywer aangeval het. Nóg twee drieë kort daarna het aan Springs teen rustyd ‘n voorsprong van 19-14 gegee.

Die Oosranders het na rustyd die druk op die manne van die Moot drasties vergroot met nog ‘n drie, maar hulle het nie gaan lê nie.

‘n Drie deur losskakel Luke Rossouw het die gaping op die telbord effens laat krimp, maar Springs het kort daarna weer toegeslaan en swak verdediging deur die Pretorianers in die middelveld uitgebuit vir hul vyfde drie.

Toe ABE Midas Naka Bulle se plaasvervanger vleuel, Earll Douwrie, drie minute voor die eindfluitjie in die hoek oorduik en sy eie drie verdoel, het die spanning breekpunt bereik, maar Springs kon vasbyt vir die oorwinning.

Tuks gee Impala reuse pakslae

Tukkies het Saterdag op Loftus Versfeld ‘n reuse opskudding in klubrugby geledere veroorsaak deur die nuwe Gold Cup kampioenspan, Rustenburg Impala, baie hard terug te bring aarde toe met ‘n oorwinning van 90-0.

Die studente van Pretoria het 14 drieë teen die manne van Noordwes ingeryg.

Hierdie was die wedstryd waarvoor almal gewag het op die openingsdag van die nuwe Volcano Cup toernooi. Die loting het só uitgewerk dat die Varsitybeker semifinaliste teen die Gold Cup kampioene te staan sou kom.

Die Noordwesters se afrigter, Nico le Roux, het egter na die stryd aan Rekord onthul dat hulle Tuks met ‘n erg gelapte span moes aandurf.

“My beste spelers was voos na die Gouebeker toernooi en ek moes vandag selfs derdespan spelers en manne wat nog nie topfiks is nie inspan. Ons vat hierdie hou op die kakebeen, maar ek glo ons sal later in die toernooi sterker vertoon. Ons het ‘n paar manne permanent verloor, maar heelwat staatmakers sal binnekort weer terug wees in ons geledere,” het Le Roux gesê.

Tuks het van die afskop af na ‘n geoliede masjien gelyk. Veral die studente se pak voorspelers is ‘n puik gedrilde eenheid en die samespel tussen hul voor- en agterspelers op die aanval was indrukwekkend.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button