Bulls klop Waratahs in sukkel-vertoning op Loftus
Die Bulls is terug bo aan die punteleer in die Suid-Afrikaanse SuperRugby groep nadat hulle daarin kon slaag om die Waratahs Saterdagaand op Loftus Versfeld te klop.
Ten spyte van ‘n lustelose vertoning kon die Bulls Saterdagmiddag op Loftus Versfdel voor ‘n karige skare van ne 7483 mense daarin slaag om die Waratahs met 28-21 te klop.
Die Bulls het begin soos ‘n span wat met positiewe rugby die bonusunt sou jaag. Binne die eerste tien minute was Warrick Gelant oor die doellyn, nadat hy met perfekte tydsberekening deur Johnny Kotze in ‘n gaping ingestuur is.
Twee minute later het die besoekers egter teruggeslaan met ‘n drie deur Nick Phipps, nadat die Bulls se verdediging oorhoops gevang is vanaf die afskop.
‘n Puik drie deur Duanne Vermeulen, vanaf ‘n onderskeppoging en ‘n gevolgglike lopie van byna sestig meter, het die skaal weer in die Bulls se guns geswaai.
Hoewel die spanne in die laaste twintig minute van die eerste helfte in ‘n armdruk stryd betrokke was, het ‘n mens tog die indruk gekry dat die Bulls stadig maar seker die oorhand kry oor hul Australiese teenstanders.
Die tuisspan het veral die vaste fasette oorheers en ‘n paar strafskoppe verdien met puik skrumwerk. Pollard kon twee daarvan in punte omskep om aan die Bulls ‘n voorsprong van 18-7 teen rustyd te gee.
Ongelukkig het dit na die breuk gelyk of die Bulls nie regtig lus was om die bonuspunt oorwinning te jaag nie. Kort na rustyd het Pollard geslaag met ‘n strafdoel en met ‘n voorsprong van 14 punte het mens verwag dat die tuisspan die speltempo sou opjaag om nog ‘n paar drieë te probeer druk.
Dit was egter die manne van Sydney wat vir die grootste deel van die laaste skof die inisiatief oorgeneem het.
Met Kurtley Beale aan die spits het die Waratahs teen moeilike lyne begin aanval en gereeld oor die voordeellyn gekom.
Pote Human en sy bestuurspan sou egter veral oneglukkig wees met die Bulls se swak verdediging vanaf eerstefase besit, want albei die Aussies se drieë in die tweede helfte het gekom vanaf ‘n vaste skrum.
Die tuisspan was uiteindelik gelukkig om die wendrie kort voor die einde te druk, toe die plaasvervanger stut, Simpiwe Matanzima, kon deurstorm nadat die bal naby die doellyn deur ‘n paar fases geneem is.
Hoewel die Bulls die oorwinning kon beklink, het hulle beslis die kans op ‘n bonuspunt verbeur, terwyl hulle drasties sal moet verbeter as hulle hoop om eerskomende Vrydag op Loftus Versfeld ook met die Crusaders te kan klaarspeel.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 28 Drieë: Warrick Gelant, Duanne Vermeulen, Simpiwe Matanzima . Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoele: Handré Pollard (3).
WARATAHS: 21 Drieë: Nick Phipps, Kurtley Beale, Curtis Rona. Doelskoppe: Bernard Foley (3).
Skeidsregter: Jaco Peyper
https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/316665229010391/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





