Centurion klop QBR, Tuks en Naka Bulle ook op wenpad in Volcano Super Klubtoernooi
Centurion en Tuks het die afgelope naweek weer goeie oorwinnings in die nuwe Volcanobeker klubrugby toernooi behaal, terwyl Naka Bulle teruggebons het met ‘n puik oorwinning ná velred eweke se teruugslag in die eerste rondte.

Ná hul goeie begin teen die Northam Rhinos in die eerste rondte van die nuwe Volcanobeker klubtoernooi, het Centurion nóg ‘n bonuspunt vertoning gelewer toe hulle Quins-Bobbies (QBR) die afgelope naweek geklop het.
Die stryd teen die manne van Groenkloof was egter baie taaier as die eerste wedstryd teen die Bosvelders en Riaan Brand se manne moes hard veg om die spannende wedstryd met 29-27 te wen.
Centurion was, met vyf drieë teen drie, egter uiteindelik die welverdiende oorwinnaars. Die groot uitblinker in die wedstryd was Centurion se heelagter, Ashwill Botha. Hy was elke keer gevaarlik as hy op die aanval in besit gestel is en hy het twee van sy span se drieë gedruk, terwyl hy ook met twee doelskoppe geslaag het.
Vir QBR het Carling Forwood sy terugkeer ná ‘n besering met ‘n gebruiklike puik vertoning én ‘n drie gevier. Losskakel Hendrik Mulder het met sy afgeronde vertoning en dodelike skopvoet ook gewys dat hy ‘n groot faktor in hierdie toernooi kan word.
* ABE Midas Naka Bulle het teruggebons ná hul teleurstellende vertoning en nederlaag verlede week teen Springs deur die gevaarlike East Rand United (ERU) op hul tuisveld in Reigerpark (Boksburg) met 49-30 te klop.
Die manne van die Moot het voorlangs oorheers en dié platform baie goed aangewend om die telbord aan die rol te hou. Hulle het uiteindelik ses drieë teen die Oosranders gedruk om daarmee ook die bonuspunt te verseker.
* Tuks het vir ‘n tweede week agtereenvolgens met ‘n top klub en Gouebeker semifinalis afgereken toe hulle die Northam Rhinos van Limpopo met 45-19 geklop het.
Hoewel dit nie weer die slagting van verlede week was toe die studente die Gouebeker kampioenspan, Impala, verneder het nie, het Nico Luus se manne met hierdie oorwinning hul plek bo aan die kompetisie se punteleer bevestig met nog ‘n groot telling.
* Die Valke se kampioenspan, Springs, het hul tweede agtereenvolgende oorwinning in die toernooi behaal deur Rustenburg Impala met 41-34 te klop.
Impala is steeds nie op volsterkte ná hul glorie in die nasionale Gouebeker toernooi nie, maar niks kan van die hardwerkende manne van springs weggeneem word met dié bonuspunt oorwining nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
