Crusaders druk sewe keer en verslaan moedige Bulls op Loftus Versfeld
Die Crusaders het Vrydagaand voor ‘n groot skare op Loftus Versfeld gewys waarom hulle die verdedigende SuperRugby kampioen is toe hulle die Bulls ‘n behoorlike pakslae gegee het.
Sewe drieë teen een. Met hierdie vertoning het die Crusaders nie net die Bulls behoorlik met 45-13 afgestof nie, maar ook gewys dat die span wat vanjaar die SuperRugby trofee wil wen, dit by húlle sal moet afneem.
Willem Strauss en sy bestuur het die afgelope week aan die Bulls se ondersteuners gevra om op te ruk na Loftus Versfeld om hul span te kom ondersteun. Daarvoor het hulle selfs die kaartjies goedkoper gemaak.
Pretoria se rugbymense het hulle deel gedoen en 23366 mense is deur Loftus se hekke vir die wedstryd, wat ‘n groot pluspunt vir die Bulls en Suid-Afrikaanse rugby in moeilike en beproewende tye is.
Maar Handré Pollard en sy manne was nie opgewasse vir die aanslag van die verdedigende kampioen nie en dit was veral hul verdediging wat hulle erg in die steek gelaat het.
Die Bulls het aanvanklik ‘n groot aanslag van die besoekers afgeweer. Dié aanslag het sowat vyf minute geduur en die Bulls was in hul kwartgebied vasgepen. Maar hulle kon daarna ‘n paar keer self amper die doellyn haal met goeie teenaanvalle.
Rosko Specman was tweemaal byna deur en die Bulls het veral op die verdediging hul teenstanders ontsenu.
Na sowat ‘n kwartier se klipharde rugby was dit egter die manne van Christchurch se vlugvoetige losskakel, Richie Mo’unga, wat die Bulls se verdediging eerste geklop het na ‘n langafstand beweging wat met ‘n vaste skrum in die Crusaders se halfgebied begin het.
Kort daarna het Mo’unga die Bulls se verdediging weer oorhoops gevang het toe hy ‘n paar manne in die lug laat gryp het om onder die pale oor te duik.
Hierna het die Crusaders die tuisspan kruis en dwars oor die veld rondgejaag met skopwerk wat aan die Bulls van ‘n dekade of wat gelede se spelpatroon herinner het.
Dié taktiek het aan hulle nog twee drieë voor rustyd besorg en toe die manne gaan water drink was die telling reeds op 26-6 in die Nieu-Seelanders se guns en die Bulls sou ‘n ligte wonderwerk nodig hê in die tweede skof as hulle met ‘n oorwining in die sak op toer wou gaan.
Daar was oomblikke waartydens dit wou lyk of die Pretorianers genoeg durf het om te probeer terugveg, maar uiteindelik was die Nieu-Seelanders se vaardighede en besluitneming net te goed.
Burger Odendaal het agterlangs soms man-alleen geveg en daarvoor is hy met ‘n mooi drie beloon. Maar die Crusaders se aanslag was só intens, dat hulle die Bulls se verdediging in die tweede helfte nog drie keer uitoorlê het.
As Pote Human se manne vanjaar hoop om by ‘n halfeindstryd of eindstryd uit te kom, sal hulle hierdie les van die Crusadres ter harte moet neem. SuperRugby gaan oor die beperking van foute en die gebruik van geleenthede. En natuurlik, vaardighede wat nie lyk soos skoolseunrugby nie.
PUNTEMAKERS:
BULLS: 13 Drieë: Burger Odendaal. Doelskoppe: Handré Pollard (1). Strafdoele: Handré Pollard (2).
CRUSADERS: 45 Drieë: Richie Mo’unga (2), Mitchell Dunshea, Sevu Reece (3), Scott Barrett. Doelskoppe: Richie Mo’unga (5).
Skeidsregter: Rasta Rasivhenge
https://www.facebook.com/BullsOfficial/videos/625318894651076/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:





