Local sportSport

Slegs twee onoorwonne spanne oor na derde week in nuwe klubreeks

Die nuwe Volcano Superbeker Klubtoernooi begin momentum optel en week drie het vir nog ‘n paar baie interessante uitslae gesorg.

Na slegs drie rondtes in die nuwe Volcano Superbeker Klubtoernooi is Tuks en Centurion die enigste twee onoorwonne deelnemers onder die agt spanne in die liga.

Hierdie feit beklemtoon die strawwe kompetisie in dié nuwe toernooi, terwyl sake in die Volcano Skild liga ook reeds baie interessante verloop.

* Die pasaangeërs in die toernooi, Tuks, het die afgelope naweek hul derde agtereenvolgende oortuigende oorwinning behaal deur Quins-Bobbies met 50-26 te klop.

Nico Luus se manne het agt keer agter die doellyn gaan kuier. Dit was veral Tuks se dryfspel voorlangs wat die manne van Groenkloof gereeld op die verdediging laat skarrel het. Hul samespel tussen voor- en agterspelers getuig ook van ‘n puik afgerigte span, terwyl min spanne in die liga by die studente se pas kan byhou as hulle begin om die krane oop te draai.

Tuks se kaptein en haker, Theuns Reynolds, het die helfte van sy span se drieë gedruk en dis veral as hulle vanaf lynstaanbesit aan die dryf gaan dat dié onderskatte speler ‘n baie doeltreffende afronder is.

QBR het egter, soos ‘n mens gewoond geraak het van dié span, wéér enduit geveg en hulle is daarvoor beloon met vier drieë, wat aan hulle ‘n bonuspunt besorg het.

Teen rustyd (22-19 in die guns van Tuks) het QBR nog ‘n kans gehad om die studente te veraas, maar Tuks het in die tweede skof sommer gou hul vyfde rat gevind.

In Hendrik Mulder het QBR ook ‘n baie talentvolle veelsydige agterspeler en stelskopper gevind, wat vanjaar nog ‘n groot bate vir sy span kan word.

 

* Centurion het gewys dat hul goeie vorm in die eerste twee wedstryde van die nuwe klubtoernooi nie tydelik was nie. Riaan Brandt se manne het Oos-Rand toe gereis om met die Valke se kampioenspan, Springs, op hul tuisveld af te reken.

Die eindtelling was 25-22 in die guns van die manne uit Pretoria se suide.

Hoewel Centurion net drie keer kon druk en dus nie ‘n bonuspunt kon inpalm nie, sal hulle baie tevrede voel met dié waardevolle ligapunte na ‘n moeilike weg-oorwinning. Springs, wat tot voor dié kragmeting die verrassingvan die toernooi was en met twee top spanne afgereken het, het self drie keer gaan druk, maar die skopskoene van Ashwill Botha en Ethan Wentzel het die skaal in Centurion se guns geswaai.

Die wedstryd het baie spannend geëindig en Centurion het die wendrie in die laaste sekondes van speeltyd gedruk.

* Die nuwe nasionale Gouebeker klubkampioen, Rustenburg Impala, is duidelik in die moeilikheid, nadat hulle sedert hul oorwinning in die eindstryd van dié prestigeryke toernooi skynbaar ‘n groot gros top spelers verloor het.

Impala het Saterdag hul derde agtereenvolgende nederlaag gely toe ABE Midas Naka Bulle hulle met 83-17 afgeslag het.

Vir die manne van die Moot is dié oorwinning egter ‘n reuse hupstoot, nadat hulle in hul eerste wedstryd van die reeks onverwags teen Springs vasgeval het.

Marinus van der Watt se manne het op hul tuisveld baljaar en dertien keer agter die doellyn gaan kuier met heelagter Danny Mokoabane en linkervleuel Diederik Oberholzer wat albei driekunste behaal het.

ABE Midas Naka Bulle vuur duidelik weer op al hul silinders en ‘n oorlog in die kleine kan eerskomende naweek verwag word wanneer hulle Centurion op laasgenoemde se tuisveld aandurf.

* In die afgelope naweek se vierde wedstryd van die toernooi het die Limpopo kampioen, die Northam Rhinos, die ander deelnemer uit die Valke se geledere, East Rand United (ERU), met 29-21 geklop.

* Behalwe vir Saterdag se groot stryd tussen Centurion en ABE Midas Naka Bulle wag daar ook interessante aksie in die wedstryde tussen Springs en Tukkies (in Springs), QBR en East Rand United (by QBR) en Impala teen ERU in Rustenburg.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button