Local sportSport

Naka Bulle klop Centurion, Tuks enigste onoorwonne span in Volcanobeker

Terwyl slegs een onoorwonne span in die nuwe Volcanobeker Super Klubtoernooi oorbly na die eerste vier rondtes van aksie, dui die uitslae van sommige wedstryde ook aan dat die standaard van spel in dié reeks besonder hoog is.

Na die vierde naweek van aksie in die nuwe Volcanobeker Super Klubtoernooi bly daar slegs een onoorwonne span oor, nadat Centurion die afgelope naweek op sy tuisveld deur ABE Midas Naka Bulle geklop is.

Hoewel Tukkies die enigste onoorwonne span is, het die Valke se kampioenspan, Springs, gewys dat dié studente wel soms kwesbaar kan wees.

* Die naweek se groot stryd tussen Centurion en ABE Midas Naka Bulle is deur die manne van die Moot met 43-28 gewen.

Daarmee het Luga van Biljon en sy makkers Centurion se onoorwonne rekord beëindig, terwyl hulle self in die tweede plek op die punteleer ingeskuif het.

Dit was ‘n klipharde stryd wat die kwaliteit van die rugby in hierdie liga deeglik onderstreep het en met ‘n bietjie geluk kon Centurion selfs twee bonuspunte uit die wedstryd verdien het.

ABE Midas Naka Bulle het hul aanslag vroeg begin en die eerste halfuur van die kragmeting oorheers. Na slegs twee minute kon linkervleuel Diederick Oberholzer deurdraf vir die eerste drie van die wedstryd, wat gevolg het ná ‘n beweging van 60 meter.

Vier minute later was dit die Moot-span se hardwerkende kaptein, Van Biljon, wat ná ‘n dryfbeweging kon afrond vir die eerste van sy twee drieë.

Toe die besoekers se opwindende heelagter, Danny Mokoabane (wat ook ‘n tweekuns behaal het), na ‘n kwarter se spel hul derde drie druk, was Centurion in ‘n situasie waarin hulle kanse sou moes begin vat om die telling te jaag.

Die tuisspan se puik losskakel, Stanley Twiname, is ‘n ervare speler en hy kon kalm bly om kort daarna met ‘n puik breekslag en ‘n perfek berekende aangee sy binnesenter, Ethan Wentzel, oor te stuur om die ys te breek.

Wentzel se sentermaat, Kevin Osborne, het kort voor rustyd ‘n onderskepdrie gaan druk ná ‘n lopie van 50 meter. Dié twee blondekop senters het terloops albei met eer uit die stryd getree en albei baie goeie spel op die aanval sowel as die verdediging gelewer.

Teen rustyd was die telling reeds 26-14 in ABE Midas Naka Bulle se guns en dit sou ‘n groot poging van Centurion verg om die gety om te keer. Van Biljon en sy mede-voorspelers het immers sake voorlangs oorheers en met ‘n oorvloed kwaliteit balbesit sou dit altyd moeilik wees om hulle te stuit.

Centurion het boonop ‘n hele paar staatmakers onder hul vaste vyf gemis en hul teenstanders het veral in die vaste fasette behoorlik die oorhand gehad.

Na nog twee vinnige drieë in die tweede helfte was die besoekers gerieflik voor op die telbord. Centurion het egter baie karakter gewys en nooit ophou veg nie. Daarvoor is hulle beloon met twee mooi drieë laat in die wedstryd, wat ook aan hulle ‘n bonuspunt besorg het.

* In Groenkloof het die Limpopo Blou Bulle se kampioenspan, die Northam Rhinos, hul tweede oorwinning van die toernooi behaal toe hulle Quins-Bobbies (QBR) op laasgenoemde se tuisveld met 52-29 geklop het.

QBR het teen rustyd nog in die Bosvelders se nekke geblaas met die telling op 19-10, maar in die tweede helfte het Northam behoorlik die oorhand gekry.

Die Gouebeker semi-finaliste het uiteindelik agt keer die doellyn oorgesteek om hul oortuigende oorwinning te bevestig.

QBR kon gelukkig daarin slaag om self vier keer te druk, wat aan hulle ’n baie waardevolle bonuspunt besorg het.

* Tuks moes die afgelope naweek Oos-Rand toe reis om Springs daar op hul tuisveld aan te durf. Nico Luus se manne het ‘n reuse aanslag van die Valke se kampioene oorleef en uiteindelik genoeg gedoen om met ‘n bonuspunt-oorwinning van 24-10 terug te keer na Pretoria.

Die Oosranders het die studente egter laat skrik en teen rustyd het hulle selfs 10-5 voorgeloop.

Springs het veral verras deur Tuks se gevaarlikste wapen – hul rolmaal- en dryfbewegings vanaf lynstane naby die doellyn – te stuit. Hiervoor is daar in die Springs-kamp groot lof vir een van hul hulpafrigters, die voormalige Springbok flank, Ian Macdonald.

Met hierdie vertoning het Springs boonop ook aan hul toekomstige teenstaners bevestig dat hulle op hul tuisveld ‘n harde neut is om te kraak, nadat Centurion verlede week eers in die laaste sekondes van hul tweestryd die knoop kon deurhaak.

* In die vierde wedstryd van die Volcanobeker Super Klubtoernooi het die Gouebeker kampioen, Rustenburg Impala, hul vierde agtereenvolgende nederlaag in die nuwe toernooi gely.

Die Valke se ander deelnemer in hierdie toernooi, East Rand United (ERU) van Reigerpark, het Impala op hul tuisveld in Rustenburg met 30-22 geklop.

Impala het beter vertoon as in vorige wedstryde, maar hul ondersteuners sal steeds baie bekommerd wees oor die situasie rondom dié span, wat byna die helfte van hul beste spelers verloor het sedert hul oorwinning in die Gouebekerreeks minder as twee maande gelede.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button