Local sportSport

Puik Volcanobeker-aksie bevestig dié klubrugby toernooi se status

Terwyl Tukkies hul vyfde agtereenvolgende wedstryd met volpunte gewen het, het Centurion agt drieë gedruk in ‘n terugvegpoging teen East Rand United, om agter Tuks in die tweede plek in te skuif in die Volcanobeker Super Klubrugby toernooi.

Na vyf weke van puik klubrugby aksie is die nuwe Volcanobeker Super Klubreeks waarskynlik nou gevestig as Suid-Afrika se voorste provinsiale klubrugby toernooi.

Week na week lewer hierdie toernooi klubrugby aksie van werklik hoë standaard en die afgelope naweek het die kompetisie ook blootstelling op nasionale TV gehad, toe die wedstryd tussen Centurion en East Rand United (ERU) as deel van een van SA Rugby se rugbyfeeste uitgesaai is.

Dié wedstryd het saam met twee provinsiale wedstryde in die SuperSportbeker provinsiale toernooi op die Bosmanstadion in Brakpan plaasgevind. By dieselfde rugbyfees het die Valke en die Griffons eers teen mekaar gespeel in die SuperSportbeker toernooi, waarna die Lions en die Blou Bulle ook in dié toernooi kragte gemeet het.

* Centurion se wedstryd teen ERU tydens Sondag se rugbyfees in Brakpan het baie goed ingepas by die konsep van ‘n feestelike geleentheid, toe die twee spanne in ‘n skouspelagtige en opwindende vertoning saam 14 drieë gedruk het.

Riaan Brand se span uit Pretoria se suide is aanvanklik verras met ‘n reuse aanslag van die manne van Reigerpark en teen rustyd was hulle met 24-38 agter. Centurion het egter teruggeveg, terwyl die Oosranders self nooit besgegee het nie. Maar Centurion het dié wipplank-stryd uiteindelik met 57-53 gewen om vyf waardevolle ligapunte in ‘n wegwedstryd in te samel.

Dié oorwinning beteken dat Centurion terug is in die tweede plek op die punteleer van die Volcanobeker toernooi, nadat hulle by ABE Midas Naka Bulle verbygeskuif het.

* In Groenkloof het Quins-Bobbies (QBR) met ‘n verswakte span teen die omgekrapte kampioene van die Valke, Springs, vasgeval. Die manne van die Oos-Rand het swaar op hul heelagter, André Smith, se akkurate skopskoen gesteun om die wedstryd uiteindelik met 26-17 te wen.

QBR moes sonder staatmakers soos Jan-Hendrik Bosman, Attie Joubert, Ruaan du Preez en Hendrik Mulder klaarkom, maar die manne wat hulle vervang het, het hul kant deeglik gebring.

Springs het ‘n baie gedugte pak voorspelers en hulle het aanvanklik in die eerste helfte die oorhand gehad, wat hulle in staat gestel het om via die skopvoet van Smith ‘n voorsprong op te bou nadat die skeidsregter nie skaam was om strafskoppe uit te deel nie.

Nadat Springs vroeg in die tweede helfte weer hul tweede drie gaan druk het en Smith die telling op 26-3 te staan laat kom het met nóg ‘n strafdoel, het QBR se terugvegpoging begin.

Die besoekers se swaar pak voorspelers het kortasem geraak en QBR het stelselmatig momentum begin bou.

Kort na die tuisspan se eerste drie het hulle egter weer momentum verloor ná twee kaarte – een geel en een rooi. Die geelkaart was reeds ‘n 50/50 beslissing weens ‘n beweerde laat-duikslag van QBR se puik binnesenter, Gido Horn, op ‘n opponent.

Die rooikaart was beslis ongewoon. Terwyl die spel al hoe vuriger geraak het en spelers aan weerskante kliphard ingeklim het tydens QBR se terugvegpoging, het die skeidsregter die tuisspan se jong losskakel, Brandan Hewitt, met ‘n rooikaart afgestuur nadat hy beweer het dat dié speler hom gevloek het. Die skeidsregter het na die wedstryd aan Rekord gesê dat hy 100% seker was dat dit die regte speler was wat afgestuur is en dat hyself wel die teiken van die vloekwoord was.

Volgens Hewitt is hy egter onskuldig. Hy het vertel dat ‘n ander speler uit frustrasie met ‘n beslissing van die skeidsregter in die algemeen ‘n vloekwoord geuiter het, maar dat dit nie direk teen die skeidsregter as persoon gemik was nie.

Dié rooikaart het QBR beslis duur te staan gekom en waarskynlik ook ‘n kans ontneem om die wedstryd te wen. Hoewel hul daarna nog een keer gaan druk het met 14 manne teen 15 – na goeie individuele spel van die driedrukker en regtervleuel, De-an Ackermann – was hul ritme agterlangs beslis versteur en waardevolle momentum was verlore.

* Tuks het hul onoorwonne rekord behou en hul posisie op die punteleer verstewig met ‘n bonuspunt oorwinning teen ABE Midas Naka Bulle op hul tuisveld op die LC de Villiers sportkampus.

Tuks het vyf keer gaan druk teen ABE Midas Naka Bulle se drie drieë vir ‘n eindtelling van 41-22.

Hoewel die manne van die Moot enduit moedig bly veg het, het Tuks reeds vroeg in die wedstryd ‘n greep op die wedstryd gekry en hulle het regdeur beheer uitgeoefen.

Albei spanne het positiewe rugby gespeel, maar Tuks het voorlangs die oorhand gehad. Dit het aan hul afgeronde losskakel, Steven Moir, die kans gegee het om weer die wedstryd te beheer met sy geleerde skopvoet. Hy het ook met ‘n byna foutlose stelskop-vertoning 16 punte vir sy span bygedra.

* Hoewel die nasionale Gouebeker klubkampioen, Rustenburg Impala, weekliks beter speel, het hulle die afgelope naweek hul vyfde agtereenvolgende nederlaag gely in die Volcanobeker Super Klubtoernooi. Northam se Rhinos het Impala met 53-33 geklop.

Impala kon darem daarin slaag om hul vierde bonuspunt van die toernooi te versamel met die vyf drieë wat hulle gedruk het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button