Local sportSport

Dis Tuks teen QBR in eindstryd van Volcano onder-20 klubliga

Die Blou Bulle se Volcano Onder-20 klubligas bereik oor twee weke ‘n hoogtepunt met die eindstryde, nadat die halfeindstryde verlede week met skitterende rugby afgehandel is.

Tukkies se Young Guns en Quins-Bobbies (QBR) se onder-20 Kobras het verlede week daarin geslaag om deur te dring na die eindstryd van die Blou Bulle se nuwe Volcano onder-20 klubliga.

Dié nuwe liga, waarin 12 spanne in twee verskillende afdelings teen mekaar meegeding het, het klubrugby in Pretoria op onder-20 vlak na nuwe hoogtes geneem en daar heers groot opgewondenheid oor die invloed wat die nuwe liga in die toekoms op senior klubrugby kan hê.

Hierdie nuwe liga se standaard is veral vanjaar verhoog met die insluiting van die grootste gedeelte van die Blou Bulle se junior gekontrakteerde spelers by verskeie klubspanne.

Al die halfeindstryde is verlede week op Loftus Versfeld se B- en C-velde beslis. Die eindstryd sal op 15 Junie op Loftus Versfeld as voorwedstryd vir die SuperRugby wedstryd tussen die Bulls en die Lions gespeel word. Hopelik sal rugbyliefhebbers dié dag vroeg genoeg na Loftus opruk om die kwaliteit rugby in die Blou Bulle se junior klubspanne te waardeer.

* In verlede week se eerste halfeindstryd het Tuks se Young Guns na die eindstryd deurgedring toe hulle ABE Midas Naka Bulle se Sables met 32-22 geklop het. Dié twee spanne het onderskeidelik eerste en vierde op die punteleer geëindig.

Teen rustyd was Tuks reeds met 21-3 voor en dit was veral hul puik losskakel en kaptein, Zander du Plessis, wat beïndruk het met die wyse waarop hy geleenthede vir sy spanmaats geskep het én vir sy reuse lynskoppe waarmee hy sy span op die aanval gehou het.

Na tien minute se spel in die tweede helfte wou dit voorkom of die koeël deur die kerk is in dié wedstryd, met die telling op 29-3 na ‘n strafdoel en nóg ‘n drie.

Die rooikaart wat Tuks se vaskopstut, Barry Viljoen, egter kort voor rustyd ontvang het, het die momentum stadig maar seker begin swaai en die Sables het stelselmatig ‘n greep op die wedstryd gekry.

Drie drieë in twintig minute vir die jong span uit die Moot het sake drasties omgekeer en in die laaste vyf minute wou dit lyk of  hulle vir ‘n verrassing kon sorg.

‘n Puik strafdoel vanaf die kantlyn deur Tuks se skrumskakel, Cornel Korff, het die uitslag egter bo alle twyfel gestel met net ‘n minuut speeltyd oor.

* Die tweede halfeindstryd tussen QBR se Kobras en Tuks se onder-20A span (die twee spanne wat onderskeidelik tweede en derde op die punteleer geëindig het), het ook vir ‘n skouspel gesorg.

Dié wedstryd is deur QBR met 42-24 gewen en daarmee het hulle seker gemaak dat hulle Tuks se Young Guns in die eindstryd sal ontmoet.

Hierdie wedstryd is veral gekenmerk deur briljante agterspel, waar die twee losskakels, Brandon Melamed van Tuks en Denzo Bruwer van QBR, asook die gewese Boland Cravenweekspeler en heelagter van QBR, Connor Mahoney, uitgeblink het.

Bruwer, wat verlede jaar nog vir Namibië se nasionale onder-20 span uitgedraf het, is beslis ‘n jongman waarvan Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers nog baie gaan hoor.

QBR het uiteindelik vyf keer gaan druk teen Tuks se vier drieë en daarmee het hulle die wedstryd beklink.

* In die B-afdeling van die onder-20 klubliga het QBR se Mambas teen TUT se onder-20’s te staan gekom in die een halfeindstryd, terwyl Tuine se onder-20 Grizzlies teen Tuks se Pumas gespeel het in die ander halfeind.

Die QBR Mambas het met 34-10 gewen, terwyl Tuks se Pumas die ander kandidaat in die eindstryd sal wees, nadat hulle die Grizzlies met 46-5 geklop het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button